Psalm 31:15-16 Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand.

Ek het die voorreg gehad om my skoonma, wat ‘n rukkie gelede oorlede is, se Bybel te kry. Tussen die blaaie was daar kosbare ontdekkings. . . Dis asof sy met my gekommunikeer het.

 

Die gedig hieronder was ook daar, netjies uitgeknip:

img_0950

Unfolding the Rose

It is only a tiny rosebud,
a flower of God’s design,
but I cannot unfold the petals
with these clumsy hands of mine.

The secret of unfolding flowers
is not known to such as I.
God opens the flower so sweetly;
when in my hands they die.

If I cannot unfold a rosebud,
this flower of God’s design,
then how can I have wisdom
to unfold this life of mine?

So I’ll trust Him for leading
each moment of my day.
I’ll look to Him for His guidance
each step of the pilgrim way.

For the pathway that lies before me
only my heavenly Father knows
I’ll trust Him to unfold the moments
Just as He unfolds the rose. . .

Here, elke roos is ook die werk van U hand en daarom weet U hoe om dit te ontvou. Daarom kan ek rus in die wete dat U, wat my ook geskep het, my lewe sal ontvou op U volmaakte manier en tyd.

roos-2

img_2025

Hier op aarde is dit vir ons soms moeilik om aan hierdie belofte vas te hou, ons raak so gou ongeduldig en wil self ingryp. . .

Laat elke roos wat ons sien ons daaraan herinner dat ons hier veilig in U liefdevolle skepper- en sorghand is en dat ons op U kan vertrou.

Laat ons onthou: die Roos van Saron het ook die ontvou vertrou . . .

20161107_111437_resized

Jakobus 4:13-15 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

Die afgelope ruk het ek weer intens besef dat ek glad nie in beheer is nie en ook dat ek glad nie veronderstel is om in beheer te wees nie.

My planne vir verlede week was al ‘n jaar tevore gemaak. Toe is hierdie planne omvergewerp. Ek was eintlik verbaas hoe moeilik dit vir my was om te aanvaar dat dit nou so is. . .

Jesus se woorde aan Paulus op die Damaskuspad raak my diep aan: Handelinge 26:14b Jy maak jou net seer deur jou te verset.

So: ek het die keuse om my te verset, met al die pyne wat daarmee saamgaan, of om te aanvaar, wat ook ‘n pynlike proses is, maar wat uitloop in ‘n vrede, ‘n berusting dat daar ‘n groter plan aan die werk is.

Die verset is ‘n blinde protes: ek kan nie en wil dalk nie sien wat regtig aan die gebeur is nie. Indien ek egter dieper in die pyn ingaan, myself begin afvra wat ek voel en waarom ek dit voel, sien ek in dat dit my ego in een van sy vele vermommings is, wat na vore kom: ek hou daarvan om te beplan en so in beheer te voel.

Dis egter is ‘n groot genade van ons Here dat ‘n mens dit kan raaksien en dit dan kan bely. Die raaksien maak dat ‘n mens afstand daarvan kry, vir jouself kan sê: hier is sy (die ego) al weer, sy wil so graag alles beheer… So kan ‘n mens Hom vra vir sy hulp.

Nou kan daar ‘n aanvaarding kom, ‘n wete, dat ‘n groter plan besig is om te ontvou in ‘n liefdevolle Vaderhand op sy volmaakte manier en in sy volmaakte tyd. Al laat dit my (eintlik net my ego) nie altyd lekker voel nie, kan ek daarin berus dat Hy altyd beter weet.

Net die vorige week by die wetenskapklub sien ons die spirale:

20161026_105923_resized

20161026_105543_resized

Dit herinner aan ‘n ontvouing.

Hierdie varingblare vertel dieselfde storie:

varing-1

Daarom is die twee letters wat ek deesdae meer wil gebruik ‘n D en ‘n V langs mekaar, D.V., Deo Volente, as die Here wil, en om Hom en sy tyd en prosesse meer te vertrou en daaraan oor te gee.

Ons, as sy kinders, kan rus in die wete dat Hy alles ten goede laat meewerk, deur al die groter en kleiner pyne van die lewe.

20161103_150723

Fil 3:20a Maar ons is burgers van die hemel. . .

Sedert die laaste bloginskrywing was daar ‘n groot verlies in ons lewens: my skoonma is verlede Vrydag oorlede. Dis asof verlede week se inskrywing profeties was en ek kon opnuut troos vind in die woorde, die gedig. Ons het ook soveel troos ondervind in die woorde, die omgee en liefde van mense om ons.

ma-susan-9-nov-16

Daar is niks soos die donkerte van dood om ‘n mens te laat besef hoe verganklik, hoe tydelik ons lewens hier is nie. Dit is juis in hierdie oomblikke wat ons intens soek na lig, na iets meer, iets groters. Dit laat ons besef dat ons eintlik deel is van ‘n ander wêreld. . .

img_0339

Die verlies is swaar, maar ons troos lê daarin dat sy nou haar permanente intrek geneem het: haar aardse tentwoning is afgebreek en sy leef nou in haar vaste hemelwoning.

Stof tot dankbaarheid

Met Ma Susan, 1929-2016, se gedenkdiens

vier syfers, ‘n strepie, vier syfers
‘n geboorte, ‘n lewe, ‘n sterwe
lewe het uit-gesyfer . . .
stof wat teruggekeer het na stof,
die woestynwind waai
en ‘n plek is vir altyd leeg

twee datums, ‘n begin, ‘n einde
aan mekaar verbind
die berusting: alle tye rus in sy hand,
die altyd oop, uitgestrekte Hand . . .
wanneer ons hand daarin kom rus
sal dit nooit uit geruk word nie
nie tot in alle ewigheid nie . . .

vier syfers, ‘n stofstrepie, vier syfers
nie ‘n einde
maar ‘n begin . . .
‘n terugkeer van ‘n onsterflike siel
na die onsterflike Stofmaker

Ons sal Ma mis, maar dit troos om te weet waar Ma is. . .

Johannes 14:6a Jesus het vir hom gesê: ”Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

Alles is nogal deurmekaar op die oomblik in ons land. Dit voel asof alles val en wat nog nie geval het nie, is op pad om te val. . .

val

Maar wat daarvan as ons heeltemal anders daarna kyk? Ons as Christene het ‘n ander uitkyk op die lewe, want ons kan opkyk na Lewe.

img_6207

Die diep wete dat God altyd aan die werk is en dikwels op baie vreemde maniere, behoort ons as Christene gemoedsrus te gee te midde van enige onrus, enige val . . . In sy arms hoor ons sy sagte fluisterstem.

Troosfluisteringe

alles is reg
Ek is nie weg
Ek is die weg

Wil Hy dalk juis hê ons moet in hierdie tyd val: in sy arms in? So word die val-pad, die af-pad dan ‘n op-pad, op pad saam met Hom.

Kom ons val elke dag in die pad, op hierdie pad!

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

‘n Krisis verander ons lewens ingrypend. Die een oomblik voel alles nog reg en die volgende oomblik is daar ‘n groot verlies. . . Dis asof daar ‘n donker gordyn om mens toevou,  die donkerte jou omsluit . . .

As Christene word ons nie gevrywaar van krisisse nie, maar ons weet dat Hy altyd by ons is, dat Hy ons nooit alleen laat nie. Hyself het deur soveel donkerte gegaan. Die voorhangsel het geskeur en daar het vir ons lig, toegang tot Hom gekom.

Met die kranslegging voorverlede Sondag loop ek stadig en ek sien dat een van die slagoffers se dogter voor my loop. Sy is in swart aangetrek en dis baie duidelik dat sy in skok is, dat haar hart gebreek is… Ek sien dat daar ‘n arm sag om haar gevou word. . .

Toe ek later die foto op my rekenaar aflaai, sien ek die ligstraal:

20161016_120209_hdr_resized

Toe herinner Hy my: nuwe lewe kom altyd uit die donkerste plekke…

IMG_2017

Markus 16:6 “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.

Toe onthou ek die woorde uit die liedboek: Lei U ons lig, deur hierdie duisternis. Here Jesus, U weet hoe, want U ken die pad uit die duisternis. Op U volmaakte tyd sal die lig deurbreek, terwyl ons aan die wete vashou dat U ewige arms altyd sag om ons gevou is.

Joh 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Ons ervaar steeds die rimpeleffek van wat verlede Woensdag in ons kompleks afgespeel het. . . Dit het ‘n invloed op soveel mense se lewens.

Die afgelope Sondag was daar ‘n diens en kranslegging by ons klubhuis. Die mense, oor alle grense heen, het in groot getalle opgedaag, soveel so dat daar nie genoeg sitplek was nie. Soveel bosse blomme is gebring. Die tragiese gebeure het mense nader aan mekaar gebring. Pyn is ‘n universele taal.

blomme-2

Ek hoor en sien hoe mense met mekaar praat, mekaar ondersteun.  Bure ontmoet mekaar vir die eerste keer. . . Mense, medepelgrims,  sien mekaar regtig raak.

Pelgrims

weens sonde
het ons almal wonde
niemand is ongeskonde
tog raak ons so verbonde

Pyn en lyding maak ons opnuut bewus van ons gebrokenheid en ons gebroke wêreld. Dit skud ons tot in die oomblik in, ons volle aandag is skielik hier. Ons broosheid en breekbaarheid maak ons bewus daarvan dat ons heling nodig het, dat ons nie sonder ‘n Verlosser kan leef nie.

Here Jesus, U het U daartoe verbind om ons wonde te verbind en ons daardeur aan U verbind. So verbind U ons ook aan mekaar deur ons wonde.

Die volgende woorde is vir my nou baie kosbaar: Hosea 2:18-19 Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.

Ek kyk af en net hier op die harde pad, reg onder my voete, sien ek sy trou raak:

img_0018

Gister, na ‘n heerlike reënbui deur die nag, sien ek in hierdie poeletjie sy hart van liefde wat oorloop vir ons. . .waterhart

Ja, Here, tekens van U troue liefde is oral sigbaar, dikwels op plekke waar ons dit die minste verwag. . .

Psalm 23:2 He lets me rest in green meadows; he leads me beside peaceful streams.

Die geweld was hierdie week nie net ver nie, maar was baie naby, tot in ons kompleks, The Meadows.

Woensdag was ‘n dag van verskrikking wat geëindig het in 4 mense wat hier binne dood is. Ek en my man was buite die kompleks. Ons seun was by die huis, juis vanweë die geweld op die Universiteitskampus… Ons kon nie inkom by ons huis nie en ons seun moes binne die huis bly.

Laatnag kon ons eers terugkeer huis toe.

Die gebeure was oral in die nuus. As jy dit misgeloop het, lees meer by http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/pta-gyselaarsdrama-so-ontvou-gebeure/

My hart is stukkend. Wat maak dat een mens so iets geweldadigs aan ‘n ander doen? Wat gaan binne ‘n hart, ‘n lewe, aan om medemense net bloot só dood te skiet?

Ek loop gisteroggend met my kamera en vra dat Hy vir my sy hart wys.

Die huis is reg hier voor my: dit herinner aan ‘n fort. Daar is ‘n dik, hoë muur in aanbou. Drie lere lyk vreemd geplaas . . . Ek ervaar die pyn van dit wat hier gebeur het. Op die teer buite lê rooi grond op die plek waar een van die slagoffers gelê het, ‘n stille bewys van die tragedie wat homself hier afgespeel het… ‘n Pa, ‘n eggenoot, ‘n seun, koelbloedig doodgeskiet…  ‘n Lewe vernietig.

img_0002

Here, U wil vir ons rus bied in groen weivelde, terwyl daar soveel haat, vrees, onrus en geweld om ons en in ons is.

Mag ons harte groen weivelde vir mekaar wees waarin dié wat lewensmoeg en vol pyn is, rus kan vind en so ook die Herder daar ontmoet.

Ek loop stadig , baie hartseer weg en ek weet die pyn wat ek voel is syne… Hy, die Vredevors, wil hê ons moet in vrede leef. Ps 133:1 kom by my op – Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!

Met die terugstap sien ek aan die kaktusplant, met sy skerp punte, ‘n veertjie hang. Toe verstaan ek: selfs in al die seer, bly U daar, is U altyd met ons.

img_9983

‘n Entjie verder weg lê sy monogram reg hier voor my –

Ichtus: Jesus Christus, Seun van God, Verlosser.

img_0022

Dankie Heer dat U altyd by ons is, in elke oomblik. Dankie dat U ons gedurig daaraan herinner selfs in ons seerste seer, want U het ons in gedagte gehad in U seerste seer.

Exodus 3:4a (MSG) God saw that he had stopped to look. God called to him from out of the bush.

Waar ons so ‘n rukkie gelede in ‘n nabygeleë wildtuin was, was dit hartverskeurend om te sien hoe droog dit is. Die damme het só min water in.  Op die oog af lyk alles so hard, so lelik, so ongenaakbaar . . .

Dis egter lente en hier en daar is daar bome met die mooiste bloeisels. Ek het al nader gegaan en hoe nader ek gegaan het, hoe groter het die skoonheid geword. . .

Ek deel dit graag met julle:

boom

img_8974

img_8958

img_8945

img_8948

“Holiness comes wrapped in the ordinary. There are burning bushes all around you. Every tree is full of angels. Hidden beauty is waiting in every crumb.” ― Macrina Wiederkehr

Dit is waar, daar is oral braambosse, selfs daar waar ons dit nie verwag nie. Om ‘n braambos te kan herken, moet ons egter stop om te kyk, hulle word nie sommer net in die verbyloop of -hardloop raakgesien nie.

Ek wil nie graag later moet sê: “Die Here is op hierdie plek en ek het dit nie besef nie”.

Gebed: Here, help my om asseblief U teenwoordigheid in elke elkedagse braambos raak te sien in elke mens, elke dier, in alles, want U is in alles.

img_8932

 

Fil 1:9 Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,

‘n Ruk gelede het ek hierdie boom raakgesien. Van ver af het hy so mooi vertoon.

img_0413

Maar toe ek nader kom en by hom stil word, sien ek op sy stam ‘n hart.  Dit het my hart aangeraak . . .

img_0814

Dis asof hierdie boom sy seer hart vir my wys. Die lied van R.E.M. Everybody hurts kom by my op. Nie almal loop met hulle harte op hul moue nie, maar as ons stadiger leef, bietjie R.E.M., stil sit by iemand, regtig omgee, sal hulle hul hart stadig vir jou oopmaak, wys. Dit alles vra egter tyd, liefde en geduld. Dit is oneindig kosbaar wanneer dit gebeur. Klipharde klipharte word dan vleessag . . .

img_0418

Gebed: Here, ons woon in ‘n stukkende wêreld waar almal wonde dra. Help ons asseblief daarom om sag te wees met mekaar, sag te kyk na mekaar, laat ons mekaar daaraan herinner dat U genesende lig altyd daar is en altyd genesing wil bring, U wat altyd sag na ons kyk . . .

Joh 16:33 In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

‘n Jong student sterf onverwags, ‘n middeljarige vrou sterf skielik, ‘n jong Ma en haar ongebore baba sterf,  ‘n middeljarige man kry beroerte en sterf  ‘n paar dae later . . . Soveel mense word tot stilstand geruk deur dood, siekte, beproewing, trauma.

 

Ons voel soms so teen die aarde, stukkend, flenters, vol gate. . .

IMG_2406

Maar: Man van lyding wat pyn geken het, U lewe hier op aarde was ook vol gate. Maar U het net uitgehou, aangehou, met volle vertroue in die Vader, selfs al was U self ook later vol gate. . .

IMG_0823

Paulus skryf in 2 Kor 4:17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

IMG_3047

 ‘n Heerlikheid, ‘n Heer-ligheid wag! Immanuel-God, wys asseblief vir ons U vensters, al is ons flenters, vol gate . . . Ek glo dat Paulus ook deur hierdie venster gekyk het toe hy die Here hoor sê het:  “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12: 9)

Skoenlapper