Efesiërs 2:10 want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.
Kyk ‘n bietjie na hierdie vis:
Hierdie vis het dit gedoen waarvoor hy geskep is. Is dit nie ongelooflik om te sien hoe doelgerig, presies en in ‘n vloei (letterlik en figuurlik!) hy is, terwyl hy sy kunswerk voltooi nie? Op ‘n onverklaarbare manier weet hy net hoe om sy meesterstuk te voltooi! Hy besef glad nie hoe ongelooflik sy kunswerk is en sal beslis nie weet dat soveel oë daarna kyk en diep aangeraak word nie. Ook sal hy nie weet hoeveel oë as gevolg daarvan deur sy byna deursigtige lyf kyk en besef dat daar ‘n Meester Kunstenaar is wat deur hom aan die werk is nie. . .
Here, so het U vir elkeen van ons ‘n metaforiese lewens-kunswerk in gedagte, wat uniek aan elkeen van ons is. Help ons asseblief om elke dag daarmee besig te wees. Al maak ons foute, werk U selfs dít in ons kunswerk in. . . U vra bloot net ons gewilligheid om aan U verbind te bly, dan doen U dit deur ons.
Ons wil ook graag soos Jesus eendag kan sê in Johannes 17:4 “Toe Ek op die aarde was, het Ek vir die mense gewys dat U God is, want U het vir My werk gegee om te doen, en Ek het die werk klaar gedoen.
Uself het tot ekstreme stappe oorgegaan om ons aandag te trek – U het aarde toe gekom, neergedaal tot op die laagste vlak, U verneder om ons na U te trek, in te trek . . .
Só maak U ons vissers, gered en gereed vir vis-vangs.













































