Matt 6:29 Maar Ek sê vir julle: Koning Salomo was ryk en hy het mooi aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie.

Ons was vir ‘n paar dae in die Bosveld. In ons naweekhuis het ‘n bos papawers, gerangskik in ‘n blompot, ons ingewag.  Ek moes eers aan hulle raak om te voel of hul eg is, amper soos ‘n Thomas-voel. Dadelik het ek geweet dat hier ‘n dieper boodskap gaan kom.

Jesus het saam met sy dissipels deur die veld geloop en die skoonheid van die lelies onder hul aandag gebring. . .

Deur die lens kom dieselfde boodskap:

Jammer, Salomo, inderdaad kom jy sleg(s) tweede hier. . .

Jesus laat sy storie ‘n draai loop deur die skoonheid van ‘n brose, verganklike blom om ons te laat besef dat Hy sal sorg, dat ons nooit bekommerd hoef te wees nie.

Die stralende skoonheid van hierdie blomme herinner ons daaraan om as ligdraers te leef en ook dat Hy die spil is waarom ons lewens moet draai. . .

Matt 6: 33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Ps 121:1 ‘n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

Dié beeld van Francis op berg Subasio het vir my ‘n diep kyk in ‘n geheim van sy lewe gebied:

Hy het gereeld opgegaan berg toe om tyd alleen met God te spandeer. Hier lê hy plat op sy rug.

Francis het ook hier Jesus se voorbeeld gevolg:

Lukas 6:12 In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.

Dis wanneer mens gereeld in stille oorgawe jou rug laat rus teen die Rots, dat jou rug breed genoeg raak wanneer jy terugkeer na jou lewensvallei en dat jy nie met jou rug teen ‘n muur sal staan nie, omdat Sy hulp, sy nabyheid altyd daar is.

Is dit ‘n tydlose bergtydgeheim dat jou (uit)sig hier herstel word en dat jy ervaar hoe die Rots jou oral omvou en invou?

Die pelgrimsreis na Rome en Assisi is agter die rug. Dis vir my moeilik om hierdie ervaring in woorde te vertaal, maar ek gaan tog probeer om dit met ‘n paar straaltjies sinne elke week hiernatoe te lei, van dít wat my bybly, wat steeds my hart week maak en my gebed is dat dit dieselfde vir jou sal doen.

Hieronder is ‘n gedig wat ‘n anonieme persoon oor Francis se lewe geskryf het:

Peace Prayer of Saint Francis

Lord, make me an instrument of your peace:
where there is hatred, let me sow love;
where there is injury, pardon;
where there is doubt, faith;
where there is despair, hope;
where there is darkness, light;
where there is sadness, joy.

O divine Master, grant that I may not so much seek
to be consoled as to console,
to be understood as to understand,
to be loved as to love.
For it is in giving that we receive,
it is in pardoning that we are pardoned,
and it is in dying that we are born to eternal life.
Amen.

(By https://www.franciscanmedia.org/saint-francis-of-assisi/ is daar ‘n kort storie oor sy lewe.)

Ons is so dankbaar vir mense wat so geleef het en ons steeds inspireer. Francis het vir ons gewys wat één mens kon doen wat Jesus se voorbeeld nougeset nagevolg het, wat Hom bo alles liefgehad het.

Dit is geen wonder dat hierdie gebed al so dikwels getoonset is nie, dit is en sal altyd aanklank vind by mense wat op soek is na vrede wat begin in harte en wat lei na vrede op aarde.

Hieronder is twee mooi weergawes (met beeldmateriaal van Assisi in die eerste een).

Maak ons ook asseblief U instrumente, Heer, ons stem in om weer ingestem te word, want ons note raak so gou vals.

So gaan elkeen van ons se unieke melodie saam uitwaarts die wye ruimtes in om saam met dié van die engelekore te weerklink en die Vredevors die soete klanke glimlaggend geniet.

Joh 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

‘n Ongelooflike ervaring wink: ‘n pelgrimstoer na Rome en Assisi. . .

Daarmee saam kom die uitnodiging om ‘n gemaksone te verlaat en weg, verder te reis.

Dit kos deeglike beplanning, asook besinning om te besluit wat saam gaan reis of nie. Dinge wat voorheen as noodsaaklik beskou is, sal te swaar raak om saam te dra. . . Dit geld nie net vir dit wat binne ‘n tas gepak word nie, maar ook vir dít wat binne saam gaan reis. . .

Die insig kom: om in die lig van U teenwoordigheid te reis, vereis dat mens lig reis.

(Daar gaan dus vir die volgende paar weke nie bloginskrywings wees nie. Seën vir julle almal, waar julle ook al is.)

Uit Jes 60:1 Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.  

Die son het hierdie week só mooi op hierdie herfsblare geval.

Die blare het vir my so lig en sorgvry heen en weer in die wind geswaai, so asof die amper-val na die grond toe, geen probleem is nie.

Toe ek na hierdie blaar kyk, sien ek die lig: ons kan maar val, want die lig val áltyd op ons!

Here, help ons asseblief om te onthou dat U áltyd by ons is en dat dit nie afhang van waar ons onsself bevind nie.

If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer

Sou ‘n mens nie bekend wees met herfsseisoene nie, sou dit kon lyk asof ‘n tragedie homself afspeel: die blare van die boom word afgesny van hul normale voedingsbron, hulle kan nie meer fotosinteer en word as’t ware geamputeer. Hulle val na die grond. . .

Tog kon die herfsblare, net voor hul val, vir die eerste (en enigste) keer hul dieper kleure, wat altyd deur ‘n groen buitelaag bedek was, tentoonstel in ‘n skouspel van asemrowende vurige kleure wat andersins nooit daar sou wees nie.

Daar is met herfs, soos in elke ander seisoen, altyd die baie-groter-as-wat-ons-kan-verstaan-proses aan die gang.

Jesus se woorde in Lukas 9:24 “want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” herinner ons daaraan.

Verder is daar ook sy woorde in Johannes 10:28 “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Here, help ons asseblief om in ons lewens die herfsblare wat U wil laat val in volle oorgawe en vertroue te laat gaan om sodoende ruimte te skep vir die nuwe seisoen waarmee U besig is.

So word dít wat oënskynlik kon lyk na ‘n treurspel, eerder ‘n meesleurende melodie in Sy keurspel en word ek en jy genooi om in te val . . .

Jesaja 55:9 soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Daar is soveel dinge wat op die oomblik gebeur wat mens kan laat voel asof alles ten gronde gaan. . .

Toe gaan loop ek ‘n draai in die tuin en kry ‘n visuele demonstrasie wat gerusstelling, hoop en troos bring…

Die herfsblare is besig om te val, hulle gaan letterlik en figuurlik ten gronde.

Maar: daar tussen die blare, wat onafwendbaar gaan val, is die versekering, die belofte, dat daar ‘n nuwe seisoen op pad is: die beskermende skutblare wat die nuwe delikate lewe daar binne veilig bewaar en beskut teen die ongenaakbare winterkoue totdat die presiese tyd aanbreek en die nuwe blaartjies, in die nuwe seisoen, in liggroen lewe kan oopvou, ontvou. . .

Die volgende woorde van die Psalmdigter kom by my op:

Ps 46:8 Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting. Sela

Here, dankie dat U in elke seisoen van ons lewe by ons is. U het altyd ‘n groter plan wat soveel groter is as wat ons ooit kan dink of verstaan.  Wat ons wel weet is dat U ons altyd in beskerming hou in elke seisoen van ons lewens.

Ek gaan lees wat Sela (aan die einde van Ps 46:8) beteken:

SELAH is a Hebrew word meaning ‘a musical interlude; to pause and think about what was just said or sung; or to pause and watch for a visual demonstration of what was said or sung.’

Dis asof so ‘n groot en ingrypende waarheid soos hierdie, tyd en stilte nodig het om in te sink.

U gee ook in hierdie herfsseisoen vir ons ‘n visuele demonstrasie van hierdie wonderlike waarheid. Ons dank U daarvoor, ons weet dat niks ons kan skud uit U veilige beskutting nie.

 

“The world is in truth a holy place.” – Teilhard de Chardin

Flits

wanneer spraak, woorde, staak
en ek stil genoeg raak
binne hierdie aardstaak
kom die diep wéét:
áls hier is kykspleet.
Hoe kon ek weer vergeet!

Lukas 9:24 want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.

Opstandeling

verbete die klou
vuurrooi gestoei dié seisoen
laat los . . .
val na mis-oes

Here, vergewe my waar ek dikwels so opstandig kan bly kleef, dít terwyl ek die krag van U opstanding kan beleef. . .

Uit Johannes 19:18 Daar het hulle Hom gekruisig. . .

ransformeer

U kruis hard
U hart sag
my kruis sag
my hart hard

Here, U weet dis sagte harte waarin Liefde klop, wat lei tot lewens wat neergelê word, ‘n kruis wat opgeneem word en ‘n wêreld wat getransformeer word.

Here, help ons om vandag stil te word, op te kyk na U waar U aan die kruis hang en ons harte oop te stel vir U sagte influistering daarin . . .