Lukas 10: 33 -34 “Toe het ’n Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg.

 

 

Pelgrims

weens sonde
het ons almal wonde
niemand is ongeskonde
tog raak ons so verbonde

Verbind

Kruise

Gebed: Heer, U versteek dikwels Uself, U waarhede op onverwagse, ongewone plekke en maniere. Pyn en lyding is een van daardie verrassende plekke. Kyk maar net watter die effek die droogte, die lyding wat daarmee saamgaan,  op soveel mense het, hoe het dit die Samaritaan in soveel mense laat opstaan…

Fil 4: 4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Kan ek regtig oor alles bly wees? Op die oog af lyk dit nie so nie. . . Soms kry ek dit maklik reg, veral as iets groots, iets opwindends gebeur.  Maar wat van die ander tussenin tye, waarin die alledaagse sleur, selfs stormtye gebeur?

 

Ek voel dit gaan alles oor waar my blydskap se blyplek is . . .

IMG_7446

IMG_2179

 

Blygeestig

as daar niks meer
van my bly
is ek oor alles bly
maar
ook oor niks bly
want
dan bly ek
waar Hy bly

Gebed: Here, ek bely dat ek so dikwels ‘n blydskap-arm lewe leef. Ek besef dis omdat die bron van my blydskap te vlak lê en gou uitgeput raak. Dis my ekkigheid wat maak dat ek koppig in die pad bly staan, nie in die pad wil val, oorgee,  tot in U altyd-oop liefdesarms nie. Bron van wonderdade, wees my genadig, laat U stroom van blydskap standhoudend in my, deur my en om my vloei, maak my asseblief te alle tye bewus daarvan. Eers dan sal ek altyd ‘n diep, egte, be(rus)tende blydskap beleef.

IMG_2146

 

 

“Life is beautiful” sê sommige. “Life is a struggle” sê ander.
Die lewe leer ons egter só:

Life is a Beautiful struggle

IMG_6071

Die rose hierbo is vir my ‘n simbool daarvan: die geel, die son, en die rooi van die bloed, die stryd, albei is teenwoordig in die een blom.

Hoe leef ons hiermee saam? Ek glo die antwoord is in Ps 131 te vind:

Ek het rus gevind
1‘n Pelgrimslied. Van Dawid.
 
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
2Ek het rus en kalmte gevind.
Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.

 

Ek ervaar dit so:

abba en baba
nie ‘n abrakadabra
maar vas, veilig, kalm

Babavoet

So wil ek die pad loop, dis die regte posisie om in te leef!

 

 

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

 

 

Die afgelope ruk loop ek, leef ek soveel mense raak wat weet van donker klaskamers. Die lig in hul oë vertel ‘n storie . . .

Soek-lig

in donker nag van pyn
waar eieroem, eiewaan
eiewysheid kwyn
as alle skyn verdwyn
skyn Sy lig die helderste
soos dit nooit
in sonskyn skyn

IMG_3466

Gebed: Here, U weet dit is so menslik om net in die pyn, teen die donker vas te kyk, maar U laat lewe voortspruit uit enige donkerte. Help ons om U lig te sien, sodat ons kan sien wat U wil hê ons moet sien.

Truly, it is in darkness that one finds the light, so when we are in sorrow, then this light is nearest of all to us. – Meister Eckhart

 

Handelinge 17:27b,28  Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’

 

 

2016 lê pasgebore, blinknuut reg hier voor ons. My wens vir almal is dat ons elke dag, elke oomblik van hierdie nuwe jaar bewus sal wees van die Here se teenwoordigheid.

In Lukas 5 word dit beskryf hoe Jesus sy eerste dissipels geroep het. Ek het dit so verwoord:

Visvangs

my net wil skeur
my boot wil sink . . .
gaan asseblief weg
alles om my, in my stink

nee, simon, vir jóú wil Ek kry
sommer net hier naby My

Gebed: My hart wil skeur. U is soveel liewer vir ons as wat ons dink, of eerder, soveel liewer vir ons as wat ons kan dink. U die almagtige, onveranderlike, misterieuse, ewige lig-God sien al my sonde, my swakheid raak, maar steeds wil U my baie naby U hê. Hoe kan ek ooit met krom woorde genoeg daarvoor dankie sê? Ek kan dit tog gaan lééf, want ek hoor mos U hartklop . . .

IMG_1971

IMG_2160

 

 

Matt 18:3 …“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

 

Miskien het dit hierdie Kerstyd met jou gebeur dat jy ‘n spesifieke geskenk verwag het, maar dit toe nie gekry het nie. Of dalk het jy verwag dat ‘n familielid op ‘n sekere manier moes optree, maar het toe nie. Is dit nie iets wat ons almal een of ander tyd, of dalk sommer gereeld beleef nie?

Ann Voskamp skryf in haar boek One Thousand Gifts: expectations kill relationships. Ek het dit vertaal dit na: verwagtinge versmoor (of vernietig) verhoudings of sommer kortweg: VVV. Die afgelope paar dae het ek myself dopgehou en was ietwat verbaas om te sien hoe gereeld ek dit self doen (dis mos altyd makliker om dit in iemand anders raak te sien…). Wanneer ek die verwagting laat gaan het, het ek myself in ‘n vryer, oper ruimte gevind. Dit laat my dink aan Psalm 131 waar ons genooi word om net soos ‘n kind in ‘n ma se arms te lê, met geen verwagtinge nie, net tevrede soos dit nou is. Geen wonder Jesus het gesê dat ons soos kindertjies moet word nie.

Hoe kom ek vry van hierdie verwagting-ding?  Ek moet eers bewus daarvan word voordat ek dit kan laat gaan en dan verskyn Sy vryheid, vrede, vreugde (‘n nuwe VVV!).  So word die tafel gedek om Sy seën en Seun te ontvang

IMG_7445

IMG_0415

 

Mattheus 1:23 “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Engelvere vir Immanuel-gedig

“Christ could be born a thousand times in Bethlehem – but all in vain until He is born in me.”  ~ Angelus Silesius

IMG_1321

Immanuel

so is U gebore:
Heilige na stalvuil uitgewerp . . .
maar daar waar
heilig en onheilig
heilig vermeng,
word ons hemelskoon
nie meer verlore
want só is U gebore

Gebed: Heer, wees my genadig, help my dat my stal tot U beskikking sal wees sodat gebeur wat U wil laat gebeur.

 

 

Ons was vir ‘n paar dae in die Bosveld gewees en het met tye lank langs ‘n koorsboom gesit waar ‘n geelvink besig was om ‘n nuwe nessie by sy versameling te voeg. Dit was ‘n belewenis om hom dop te hou en so het my gedagtes verder gegaan . . .

IMG_3931

Uitsonderlike Uitnodiging

jy fladder jou vlerk geelvink
wys daar’s nuwe lewe wat wink
jy bewe, straal van blydskap
verkondig in liefdeslied, ononderbroke:
daar’s ‘n nuwe tuiste
spesiaal voorberei
ure en ure delikaat gebrei
alles gereed gemaak . . .
pluis ek dit uit?

IMG_3933

IMG_3941

Joh 14:2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek vir julle gesê het dat Ek gaan om vir julle plek voor te berei?

 

 

Joh 6:33 “Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

 

 

Feesmaal

die lewe is ‘n feesmaal

waarvoor Hy ons van die snelweë, die afdraaipaadjies,

die doodloopstraatjies kom haal . . .

Hy sê: eet en drink, geniet My, my sakrament

ek eet en drink, happie vir happie, teug vir teug, elke oomblik

ekstase!

die lewe is ‘n feesmaal!

laat my nooit my kos van ‘n ander tafel haal . . .

 

 

Wyn en Brood

Jesaja 25:6 Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn.

 

 

“Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2 Korintiërs 4:18)

 

 

Ons sal hier op aarde nooit 100% gelukkig wees nie en dis hoe dit moet wees. Ons is slegs tydelik op hierdie aarde, want ons is burgers van die hemel (Fil 3:20). Ons tyd op aarde is infinitesimaal klein in vergelyking met Sy oneindigheid.

Pierre Teilhard de Chardin vat dit so raak: “We are not human beings on a spiritual journey. We are spiritual beings on a human journey.”

Gebed: O Heer, vergewe my, dat ek so kan vaskyk in die aardse dinge, dat ek so dikwels vergeet dat ek van U Koninkryk is, U Koninkryk van lig. Leer my die passies van die ligdans sodat ek nie uit pas met U leef nie. Help my om te onthou dat wat ek met my vleesoë sien beslis nie die totale prentjie is nie, herinner my asseblief voortdurend daaraan soos net U dit kan doen.

 Ligdans

al spartel ons rond

in slyk, modder, grond …

dartel Ons ligvoets vás

in sy songrond

rond

Songrond