1 Petr 1: 3 Ons prys die God en Vader van ons Here Jesus Christus, God wat baie goed is vir ons. Jesus Christus het gesterf, maar God het vir Jesus weer laat lewe, en so het God vir ons ook weer laat lewe. Ons het nou ’n nuwe lewe, en daarom kan ons baie seker wees van die dinge wat ons hoop.

 So ‘n rukkie gelede het ek ‘n wurm gewaar waar hy teen my studeerkamervenster teen so ‘n slakkepas, of moet ek eerder sê “wurmpas”,  teen swaartekrag opgebeur het.

Ek het gesien hoe hy homself stadig en doelgerig begin toespin…

Ons was weg met vakansie en toe ons terugkom, sien ek wat gebeur het en neem dadelik toe my kamera om die verhaal te deel.

Daar was nou ‘n skoenlapper teen die venster! Hy was pragtig (veral as ek teruggedink het aan die vroeëre wurmvoorkoms). Dink net hoe donker dit binne die kokon was, hoe beperkend, hoe benoud… Toe, op ‘n dag, op die regte tyd, bars die nuwe lewe daaruit!

Dit is ‘n simbool van ons opstanding, ons wat in Hom glo, eendag en ook nou.

Hy het vir so ‘n dag of wat verbete aan die buitekant van die kokon vasgeklou. Ek wonder of hy homself dalk in die weerkaatsing van die glas gesien het en nie sy oë kon glo oor die metamorfose nie! Of nou vlieg my verbeelding te ver, skoenlappers kan seker nie sover sien of dink nie… Hy het bly wag en klou totdat sy vlerke sterk genoeg was en het voor my oë na vryheid gevlieg! Wat ‘n gesig was dit nie!

 IMG_9318

IMG_9428

IMG_9544

Iemand het eenkeer gesê: “the tomb becomes the womb”. Nuwe lewe kom altyd uit die donkerste plekke…

Later besef ek dat wanneer ek in my kokon, in die donkerte is, is Hy besig om my te omvorm om my meer soos Hy te maak. Dis daar waar Hy ons volle aandag het, waar ons die sagte klei in Sy hande kan wees. Hy wil ons ook van ons egoïsme stroop. Al wat ons net moet doen is om ja te sê vir Hom, net soos Hy eens in die tuin van Getsemane gedoen het met: “nie My wil nie, maar U wil”. My neiging is gewoonlik om myself jammer te kry en te wonder waarom Hy dan so ver van my voel en al die tyd was Hy só naby my. So jammer ek besef dit gewoonlik eers heelwat later…

Ek kyk na die leë kokon en weet dat daar nog baie van my is wat moet sterf …

IMG_9651

Gebed: Here, help my in die tye wat dit lyk asof alles om my donker, dood is, asof U ver weg is. Herinner my asseblief daaraan dat daar altyd ‘n opstanding na ‘n nuwe, groter en vryer lewe na elke dood is. U laat altyd alles ten goede meewerk. U weet wat die beste vir elkeen van ons is. Amen

 

Fil 3:10 Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind …

 

 

 

Opstandingslewe

Hy het na ons oorgekom
Hy het die dood oorkom
ons die ewige dood laat ontkom
Hom het ek so lief!
ek kan iets oorkom . . .
ek kan enige iets oorkom
verrys ek, verenig met Hom . . .

Die wolke oor Kaapstad die afgelope Paasnaweek het vir my die boodskap duidelik uitgespel:

IMG_8792

IMG_8819

Gebed: Dankie, opgestane Heer, dat U u opstandingskrag elke dag aan ons bied, reeds hier en nou, dat ons daaruit kan lééf.

Lukas 23:33 Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.

Here, my woorde is min, my hart so vol. U kruis raak my hart so diep omdat die grootste pyn en die grootste onskuld mekaar daar kruis . . .

Op hierdie Vrydag het die swaar gordyn, U, geskeur en daarmee is U hart ontbloot soos nog nooit tevore nie. . .

Kruise

 

 

 

 

 

Getsemane kruispad

Luk 22:39-46

die gewig van wat wag . . .
sy knieë knak, Hy sink neer . . .
Abba, dié bitter beker van sondestank só vól
engeltroos . . .
doodsangelpyn, vasgekeer, broos
bloed pêrel uit sy lyf . . .
flits ek en jy verby sy oog
lig Lig Hom self omhoog . . .

Jes 53:5 Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

IMG_2351 Read More →

Joh 12:13 Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!”

Hy weet hoe ons is

sondag nog
kom Hy op vul
waai ek die palm
my Koning kom

enkele mane later
met weersin gevul
waai ek die palm
toegevou, verduister in vuis
Hy moet gaan

tog word sy woord
so vervul . . .

nou vul Hy my
vou Hy my toe
in sy deurboorde palm

Gebed: Dankie, Heer, dat U ons só goed ken met ons vuil, feilbare harte en al. Ten spyte daarvan het U gekom en u lewe vir ons kom gee. Dit vul my met die grootste verwondering.

 

 

Hebr 13:5 “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

 

 

Hierdie week is dit uitbasuin dat ‘n bekende sportster se borge hul borgskappe van haar onttrek. Dit laat my ver binnepaaie loop . . .

My Vader borg, gee soveel oorvloed elke oomblik van elke dag waarvoor Hy nie ‘n teenprestasie verwag nie. Hy ken my deur en deur. Hy weet presies waaraan ek skuldig is, waaraan ek my vergryp, wat ek misbruik, wangebruik . . .

Ons God se hart word kleisag wanneer sy kleimensies, sy grasmensies met hul ek-is-so-jammer harte na Hom toe draai. Hy verwelkom ons altyd terug, staan dit geskryf in Lukas 15.

Pa en Kind

Weg-loper

‘n Pa wat uit sy pad gaan
die pad af hardloop
om sy arms vol hoop
om my te slaan
daarin toe te vou,
in ‘n kus vas te hou

IMG_7107

Gebed: Dankie Heer, dat U altyd bereid is om my sonde te vergewe en dit nie aan die groot klok hang nie. In hierdie liefdevolle sfeer word enige begeerte of behoefte om vinger te wys, op die lange baan geskuif . . .

IMG_6207

 

Kol 4 : 6 Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.

By op lavender

 Versoeting

o groot Chemikus
distilleer uit my lewensvog
die soetste nektar
sodat die by my
U daarin proe

 

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

 

 

 

Die afgelope week se geweld en stakings veral by universiteitskampusse het my hard aan die hart geruk, want nou is dit persoonlik: my seun is ‘n eerstejaarstudent… Nou is dit nie meer daar ver nie, nou het dit baie naby gekom.

Tussen al die beeldmateriaal van die geweld, die verskrikking daarvan, sien ek studente van alle rasse wat ‘n sirkel vorm en bid, hard bid. Die lig wat seëvier. Selfs die kleinste vlammetjie gee lig aan ‘n donker vertrek, dit weet ons tog.

Al mag dit oënskynlik lyk asof die duisternis seëvier, weet ons, glo ons dis nie so nie. Dis nie die laaste woord nie, want die Woord het altyd die laaste woord.

Daar aan die kruis, waar dit gelyk het asof alles verby was, was die lig op pad om deur te breek soos nooit tevore  nie. Ons moet net bly hoop, bly vashou vir hoeveel dae Hy wil, Sy lig breek altyd deur.

Kruis

deur die uit-me-kaar-val
kom die inmekaarval …
liederlik word
lieflik

IMG_2017

If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer

Gebed: Here, wees ons asseblief genadig. Leer ons om ons oë op U gerig te hou, om as U ligdraers en vredemakers te leef.

IMG_1321

 

Psalm 139:14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

 

 

Ek het my vandag aan my duime verwonder. . .  Deur die loop van die dag was ek so bewus daarvan hoe nodig ek hulle het en hoe moeilik ek sonder hulle oor die weg sou kom. Kyk ‘n bietjie vir jouself vandag . . .

Duimgooi

my kopliggie gaan onverwags af
en my hartlampie blits aan . . .
twee duime verskyn skielik
soos twee kordaat soldaatjies
reg hier voor my
velkreukels gevou in glimlaggies
twee halfmane wat nuuskierig
oor naelriemhorisonne loer . . .
só wonderbaarlik ontwerp
vir skarnier en gryp …
geen duim word verder versit
voordat ek dankbaar
hierdie vier litte vier!

Gebed: Dankie vir my duime, o Heer. Vergewe my dat ek so met toe oë kan leef terwyl daar elke dag soveel wondere reg onder my neus is. Maak asseblief my hartsoë oop om U in alles raak te sien, dankbaar te leef, bewus te wees van U oorvloed seën wat U in elke oomblik vir ons gee.

 

Psalm 34:9a Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!

 

 

 

Dis sommer ‘n klein beddinkie veelkleurige blomme op die sypaadjie van ‘n alledaagse stadpad, wat my aandag getrek het.  Ek het die kosmosse daarin raakgesien en besef dat dit nog nie kosmostyd buite in die veld is nie. Dadelik het ek gestop om hulle van nader te bekyk. Hulle was asemrowend mooi en ek kon nie genoeg van hulle skoonheid indrink nie.

My hart het so iets verstaan van Jesus se woorde: “Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie” .

Kosmos 4

Kosmos 3

Wit kosmos 3JPG

IMG_5378

Aanraking

U hand het sagkens
my hartsnare kom streel
en ‘n soet lied
het saggies in my begin speel . . .
my wakker gemaak
om van U bewus te raak

Gebed: Dankie, beminde van my siel, dat U liefde altyd vir ons blom in elke seisoen. Hierdie wete maak my lewe oop om ook te blom . . .