‘n Ons-word-nog-rustig-wakker tyd is een oggend hierdie week skielik onderbreek deur ‘n harde slag! Ons kyk albei in die rigting daarvan en sien net ‘n dalende flits van die allermooiste groene soos die diederik skuiling soek binne-in die potplant op die stoep buite ons kamervenster, nadat dit een van die ander kamers se venster met ‘n harde slag getref het.

Ons het geweet dis hy, want hy het ons vroegoggend al bekoor met sy sang.  Dis net hy wat hier in ons tuin met hierdie asemrowende groen verejas spog (sien blog van 16 November 2018).

Die geelvink het hom verjaag in ‘n dolle vaart en die diederik het hom misgis met die venster (dalk het hy gemeen dis ‘n veilige plek om heen te vlug). Die potplant was sy redding. . . Die geelvink het daarna ewe triomfantelik hoog op ‘n telefoondraad gaan sit.

Ons het geweet die arme voëltjie sit verskrik daar binne en is dalk beseer. Ons het bly kyk en toe ons kamera’s gaan haal om hierdie ongewone toneel vas te lê. Versigtig het ons nader gegaan en ‘n paar foto’s geneem en weer teruggegaan om hom in vrede te los. . . Sy vrees was waarneembaar. . .

‘n Paar minute later het die blye toneel voor ons afgespeel: hy vlieg op en gaan sit hoog in ‘n boom, skynbaar ongedeerd. Verligting het oor ons gespoel!

Waarom sou die geelvink dit doen? Het die diederik sy grense oorskry, hom dalk gepla of was die geelvink dalk jaloers?

Ons sal seker nooit weet nie. Ons is net dankbaar dat die ou groen lyfie weer vry, op vrye vlerk en voet is. . .

Die lewe is nie altyd so soet nie. Maar wonderbaarlik is daar vir ons skuil- en herstelplekke op presies die regte tyd soms net daar! As God so mooi vir sy voëlkinders sorg, hoeveel te meer nie vir sy mensekinders nie?

Matt 6:26b  …julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Mooier sorgwoorde as dit sal mens nêrens kry nie!

Met sonsondergang op Oukersaand het hierdie toneel voor my afgespeel:

Die vurige gloed in die hemelruim van hierdie heilige nag was ‘n stille getuienis dat U ons so liefhet dat U so naby aan ons wou kom dat U bereid was om Uself in mensvel tuis te kom maak; Immanuel.

Aan die vooraand van 2019 kan ons weet dat U, God met ons, altyd die pad saam met ons loop, ongeag hoe ons pad daar sal uitsien. Sonder U kan ons nie wees nie, dis onmoontlik.

Matt 28:20 En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ons het niks om te vrees nie, in U teenwoordigheid kan ons net ten volle onsself wees en word wie U ons geskep het om te wees!

Dit vra egter gereelde stil, eenkant gebed- en refleksietye saam met U. . . So word U beeld word al meer en meer sigbaar in die stil poele van ons harte. . .

En word U al meer en meer sigbaar in ons wêreld.

Mag ons hierdie nuwe jaar, met harte wat smag na meer van U, ruim en ruimhartig tyd daarvoor inruim. . .

1 Tess 5:16-18 Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Die Vreugde-kers is verlede Sondag met die derde Adventsondag aangesteek.

Eerskomende Sondag is dit die Liefde-kers se beurt.

Terwyl my stiefpa so lank in ICU was, het daar kersversierings op ‘n dag in die voorportaal van die hospitaal hul verskyning gemaak…  JOY, in hoofletters, het ‘n ereplek gekry.

Dit alles terwyl hy stadig besig was om te sterf. . .

Al bloei ons harte, gee die wete dat Hy ons so liefhet, dat sy liefde altyd na ons en deur ons vloei, aan ons ‘n diep, stille, egte en standhoudende vreugde. Hoe dit gebeur weet mens nie, maar die werklikheid daarvan kan ervaar word. . . Niks kan hierdie diep vreugde van ons wegneem nie, omdat die Bron standhoudend en ewig is. Dit hou ons staande te midde van enige iets wat oor ons pad kom. Wanneer ons gereeld stil genoeg voor Hom raak, kom die bewuswording daarvan, bo alle begrip van ons kleine verstand en bietjie verstaan.

Vreugde en liefde is onlosmaaklik verbind.

Johannes 15:9-11 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

My hartewens is dat elkeen van ons hierdie Kersfees hierdie diep vreugde en liefde sal ervaar van Hom wat dit vir ons kom leef het.

Die eerste Adventkers, die hoopkers, is die afgelope Sondag aangesteek.

In die middel van hierdie hoopweek is my stiefpa Willem oorlede.

Dis by iemand se sterfbed waar mens ten diepste bewus word van ons eie sterflikheid, maar ook van ons onsterflikheid.

Dag vir dag oor ‘n maandtydperk in die hospitaal kon ek ervaar hoe sy tentwoning besig was om afgebreek te word.

2 Kor 5:1 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

Sy vleestent het nou hopeloos te klein en beperkend geraak en moes plek maak vir ‘n groter lewe wat besig was om deur te breek. . . Byna soos ‘n metamorfose.

‘n Hemelburger is teruggebring na sy ewige huis toe.

Fil 3:20 Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

Wanneer ‘n mens die stil getuie van hierdie heilige gebeurtenis was, het mens opnuut ‘n nuwe taak; ons moet hoop aangee en nie hoop opgee nie!

1 Petrus 1:3-4 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

1 Kor 15:54-55 En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

Ons gaan jou baie hier mis, Willem, maar hierdie waarhede laat ons met hoop leef en bring die grootste denkbare, of dalk eerder ondenkbare troos, totdat ons jou weer gaan sien in ons ewige woning.

Johannes 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Ek glo ons word in hierdie nuwe Adventseisoen opnuut genooi om te leef in die lewegewende, alomteenwoordige en koesterende lig van Sy aangesig.

Here, U het ons gemaak om na U lig te soek en dis wanneer ons dit vind, dat ons oorvloedig blom en ons lewens tot volle wasdom kom.

Wat ‘n onbeskryflike voorreg om Ligdraers te mag wees!

Is die ongemak wat ons soms in ons lewens ervaar nie dalk eerder ‘n uitnodiging nie?

And the day came when the risk to remain tight in a bud was more painful than the risk it took to blossom. Anaïs Nin

Plante het nie ‘n keuse nie, ons het wel. Die proses is pynlik en kos oorgee, ook durf en deurdruk, maar deur ‘n bloeiende plant dop te hou, mag die laaste stukkie waagmoed aan ons gegee word. . .

So is ons dalk toe net genooi om ons beperkende, drukkende ruimtes te verruil vir ‘n nuwe wêreld wat veel groter is as wat ons kon dink of verstaan. . . Amper soos ‘n nuwe geboorte!

Wat ‘n deurbreek, ‘n triomfantelike oopbreek uit die donkerte na die lig is dit nie?!

Al wat U vra is ons ‘ja’, ons bereidwilligheid, dat U nuwe lewe deur ons kan geskied. Hoe dit dan gebeur weet ons nie, maar ons rus in die wete dat U in beheer is. Ons is nederige en oorvloedig dankbare draers daarvan.

Sondagoggend het hy ons met die suiwerste klanke onophoudelik bly roep, so asof hy sê: kom nader!

Wat ‘n asemrowende gesig! Sommer net hier in ons eie tuin.

Here, U roep elkeen van u kinders op hul naam: Diederik, Johan, Frans, Susan, Anita…

Onophoudelik verklaar en openbaar U u liefde aan ons. Help ons dat ons nie so besig en afwesig raak dat ons U nie raakhoor, raaksien of raak-ervaar nie. . .

Job 12:7-8 (Die Boodskap) Job het gesê: “Gaan gerus na die diere en die voëls in die lug: hulle kan julle baie leer en vertel. Gaan praat met die aarde. Die aarde het baie om julle te leer. Die visse in die see het ook baie om julle te vertel.

Hierdie visse is nou weliswaar nie in die see nie, maar toe ek nader gaan, sien ek:

‘n Hart!

Dankie liewe vis, jy het iets vir ons vertel of dalk eerder uitgespel. Mag ons alles op die spel plaas, sodat ons lewens liefde spel oral waar ons is en gaan!

So leef ons Jesus se groot opdrag uit:

Joh 13:34-35 (NLV) Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.”

Die Here gebruik soms ongewone maniere om sy boodskappe te bring. . .

Hierdie is Job se woorde, nadat hy al hoe dieper begin luister het:

Job 12:7 “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel…

Eens het die Here ‘n donkie gebruik wat in ‘n hoorbare stem gepraat het!

Numeri 22:28 Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam…

Hier volg Jesus se woorde: Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” (Markus 4:9)

Here, maak asseblief ons harte stil genoeg sodat ons met oop ore diep kan luister, op watter manier U ook al met ons praat, want U wil met ons kommunikeer!

Mag ons diep uit ons harte vir U sê: spreek Heer, u kinders wil luister.

Psalm 104:12 Die voëls van die hemel maak nes langs die strome en sing tussen die bome se takke.

Ons was so twee weke gelede weer in die bosveld gewees. Watter ongelooflike klanke het ons nie ingewag nie!

“In almost everything that touches our everyday life on earth, God is pleased when we’re pleased. He wills that we be as free as birds to soar and sing our maker’s praise without anxiety.” A.W.Tozer

I want to sing like the birds sing, not worrying about who hears or what they think. Rumi

A bird doesn’t sing because it has an answer, it sings because it has a song. Maya Angelou

Dankie, geveerde leermeesters, julle leer ons nog tot vandag toe. Ons mensekinders sukkel maar steeds. . . Hou maar net aan om ons te leer, want ons wil ook ons lied so vry en uit volle bors soos julle sing!