Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Die afgelope week se geweld en stakings veral by universiteitskampusse het my hard aan die hart geruk, want nou is dit persoonlik: my seun is ‘n eerstejaarstudent… Nou is dit nie meer daar ver nie, nou het dit baie naby gekom.
Tussen al die beeldmateriaal van die geweld, die verskrikking daarvan, sien ek studente van alle rasse wat ‘n sirkel vorm en bid, hard bid. Die lig wat seëvier. Selfs die kleinste vlammetjie gee lig aan ‘n donker vertrek, dit weet ons tog.
Al mag dit oënskynlik lyk asof die duisternis seëvier, weet ons, glo ons dis nie so nie. Dis nie die laaste woord nie, want die Woord het altyd die laaste woord.
Daar aan die kruis, waar dit gelyk het asof alles verby was, was die lig op pad om deur te breek soos nooit tevore nie. Ons moet net bly hoop, bly vashou vir hoeveel dae Hy wil, Sy lig breek altyd deur.
Kruis
deur die uit-me-kaar-val
kom die inmekaarval …
liederlik word
lieflik

If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer
Gebed: Here, wees ons asseblief genadig. Leer ons om ons oë op U gerig te hou, om as U ligdraers en vredemakers te leef.
