Joh 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

‘n Ongelooflike ervaring wink: ‘n pelgrimstoer na Rome en Assisi. . .

Daarmee saam kom die uitnodiging om ‘n gemaksone te verlaat en weg, verder te reis.

Dit kos deeglike beplanning, asook besinning om te besluit wat saam gaan reis of nie. Dinge wat voorheen as noodsaaklik beskou is, sal te swaar raak om saam te dra. . . Dit geld nie net vir dit wat binne ‘n tas gepak word nie, maar ook vir dít wat binne saam gaan reis. . .

Die insig kom: om in die lig van U teenwoordigheid te reis, vereis dat mens lig reis.

(Daar gaan dus vir die volgende paar weke nie bloginskrywings wees nie. Seën vir julle almal, waar julle ook al is.)

Uit Jes 60:1 Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.  

Die son het hierdie week só mooi op hierdie herfsblare geval.

Die blare het vir my so lig en sorgvry heen en weer in die wind geswaai, so asof die amper-val na die grond toe, geen probleem is nie.

Toe ek na hierdie blaar kyk, sien ek die lig: ons kan maar val, want die lig val áltyd op ons!

Here, help ons asseblief om te onthou dat U áltyd by ons is en dat dit nie afhang van waar ons onsself bevind nie.

If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer

Sou ‘n mens nie bekend wees met herfsseisoene nie, sou dit kon lyk asof ‘n tragedie homself afspeel: die blare van die boom word afgesny van hul normale voedingsbron, hulle kan nie meer fotosinteer en word as’t ware geamputeer. Hulle val na die grond. . .

Tog kon die herfsblare, net voor hul val, vir die eerste (en enigste) keer hul dieper kleure, wat altyd deur ‘n groen buitelaag bedek was, tentoonstel in ‘n skouspel van asemrowende vurige kleure wat andersins nooit daar sou wees nie.

Daar is met herfs, soos in elke ander seisoen, altyd die baie-groter-as-wat-ons-kan-verstaan-proses aan die gang.

Jesus se woorde in Lukas 9:24 “want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” herinner ons daaraan.

Verder is daar ook sy woorde in Johannes 10:28 “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Here, help ons asseblief om in ons lewens die herfsblare wat U wil laat val in volle oorgawe en vertroue te laat gaan om sodoende ruimte te skep vir die nuwe seisoen waarmee U besig is.

So word dít wat oënskynlik kon lyk na ‘n treurspel, eerder ‘n meesleurende melodie in Sy keurspel en word ek en jy genooi om in te val . . .

Jesaja 55:9 soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Daar is soveel dinge wat op die oomblik gebeur wat mens kan laat voel asof alles ten gronde gaan. . .

Toe gaan loop ek ‘n draai in die tuin en kry ‘n visuele demonstrasie wat gerusstelling, hoop en troos bring…

Die herfsblare is besig om te val, hulle gaan letterlik en figuurlik ten gronde.

Maar: daar tussen die blare, wat onafwendbaar gaan val, is die versekering, die belofte, dat daar ‘n nuwe seisoen op pad is: die beskermende skutblare wat die nuwe delikate lewe daar binne veilig bewaar en beskut teen die ongenaakbare winterkoue totdat die presiese tyd aanbreek en die nuwe blaartjies, in die nuwe seisoen, in liggroen lewe kan oopvou, ontvou. . .

Die volgende woorde van die Psalmdigter kom by my op:

Ps 46:8 Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting. Sela

Here, dankie dat U in elke seisoen van ons lewe by ons is. U het altyd ‘n groter plan wat soveel groter is as wat ons ooit kan dink of verstaan.  Wat ons wel weet is dat U ons altyd in beskerming hou in elke seisoen van ons lewens.

Ek gaan lees wat Sela (aan die einde van Ps 46:8) beteken:

SELAH is a Hebrew word meaning ‘a musical interlude; to pause and think about what was just said or sung; or to pause and watch for a visual demonstration of what was said or sung.’

Dis asof so ‘n groot en ingrypende waarheid soos hierdie, tyd en stilte nodig het om in te sink.

U gee ook in hierdie herfsseisoen vir ons ‘n visuele demonstrasie van hierdie wonderlike waarheid. Ons dank U daarvoor, ons weet dat niks ons kan skud uit U veilige beskutting nie.

 

“The world is in truth a holy place.” – Teilhard de Chardin

Flits

wanneer spraak, woorde, staak
en ek stil genoeg raak
binne hierdie aardstaak
kom die diep wéét:
áls hier is kykspleet.
Hoe kon ek weer vergeet!

Uit Johannes 19:18 Daar het hulle Hom gekruisig. . .

ransformeer

U kruis hard
U hart sag
my kruis sag
my hart hard

Here, U weet dis sagte harte waarin Liefde klop, wat lei tot lewens wat neergelê word, ‘n kruis wat opgeneem word en ‘n wêreld wat getransformeer word.

Here, help ons om vandag stil te word, op te kyk na U waar U aan die kruis hang en ons harte oop te stel vir U sagte influistering daarin . . .

2 Kronieke 16:9a Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.

Dit was ‘n artikel in ‘n kettingwinkel se tydskrif wat my oog gevang het. . .

Om op te kyk is nie vir ons vreemd nie, want ons Here Jesus het ook gereeld opgekyk:

Uit Matt 14:19 Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. 

Joh 11:41 Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.

Soveel heiliges deur die eeue het ook opgekyk. Stefanus (Handelinge 7) het opgekyk na die hemel voordat hy gestenig is.

Die artikel haal navorsing aan wat bewys dat dit mens positief kan laat voel wanneer mens opkyk. Is dit omdat ons as Christene dan ten diepste ervaar dat ons burgers van die hemel is? In Psalm 42:7 lees ons “deep cries out to deep”.

Besef ons dan ook ten diepste dat ons Vader se oë altyd op ons gerig is?

Here, U is oral, U oë is oral op die aarde. U wil graag hê dat ons oogkontak moet hê.

Hebrews 12:2 Amplified Bible (AMP)  [looking away from all that will distract us and] focusing our eyes on Jesus, who is the Author and Perfecter of faith…

Hierdie pragtige woorde uit die lied van Alan Jackson herinner ‘n mens daaraan:

Turn you eyes upon Jesus,
Look full in His wonderful face;
And the things of earth will grow strangely dim
In the light of His glory and grace.

Wanneer ons hierdie oogkontak behou, word ons sig herstel.

“The eye through which I see God is the same eye through which God sees me; my eye and God’s eye are one eye, one seeing, one knowing, one love.” Meister Eckart

 

Uit Joh 16:33 In die wêreld sal julle dit moeilik hê . . .

Pyn en swaarkry is ‘n moeilike deel van ons lewe op aarde, maar tog is daar min ander dinge juis soos pyn en swaarkry wat ons verbintenis aan Hom en mekaar hegter maak.

Wanneer iemand, waarvoor jy baie lief is, swaarkry, is daar iets heiligs wat na vore kom.  Dis asof daar iets van die groot Misterie in ons deurbreek op ‘n nuwer, dieper vlak.

Ons is so bewus van ons eie magteloosheid, nietigheid en breekbaarheid soos nooit tevore nie en dít maak ons oop om aangeraak te word, getrek te word na ‘n dieper verbinding en verhouding met Hom en met mekaar. . .

Pelgrims

weens sonde
het ons almal wonde
niemand is ongeskonde
tog raak ons so verbonde

Joh 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Ons is pelgrims op reis na ons ewige bestemming. Al kry ons hier soms swaar, is ons egter nooit alleen nie, omdat ons Here áltyd by ons is, te midde van swaarkry. Ons kan vashou aan die belofte in Ps 34:19 Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. 

Sy nabyheid en vrede loop hand aan hand.

So hou Hy ons hand vir ewig in sy onverbreekbare band.

Matt 12:34 Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Sommer hier aan die begin van Lydenstyd, nog voordat ek kon besluit waarvan ek moontlik kon vas, het dit gebeur: my stem het verdwyn. Laringitus en ‘n erge seer keel het twee wagte geword wat binne en toe sommer ook voor my mond geplaas is!! Die dokter gee baie medisyne en sê my stem moet rus.

Aanvanklik het ek nie gedink dat dit vir my moeilik sou wees nie, want ek is mos gewoond aan stilteretreats. Maar om in jou alledaagse omgewing nie te praat nie, is ‘n totaal ander storie. Ly ek dalk aan praatsiekheid?

Hoeveel anders is dit nie om eers mooi te besluit of ek hierdie enkele woorde gaan sê of nie? Toe ek later begin skryf wat ek wil sê, besef ek dat wanneer ‘n mens sien wat jy sê, sien jy jou woorde in ‘n totaal nuwe perspektief! Dis asof mens ook vooraf besin oor watter effek hierdie woorde gaan hê.

Die Engelse spreekwoord lui: “Silence is golden”.

U nooi ons altyd uit om naby U te bly, om sodoende ingestem te bly om u sagte influistering in ons harte duidelik te hoor.

Hierdie praat-vas word toe ‘n gulde geleentheid om opnuut my taal te gaan haal uit die stilte van my hart. Dan sal ek myself nie later vaspraat nie. . .

Hebr 10:23 Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.

 

Soms in ons lewens kom die moeilikhede so op ‘n hoop en dit kan voel asof dit ‘n hoop word wat ons vasdruk.

Lydenstyd het hierdie week aangebreek. Dis ‘n tyd waarin ons ten diepste besef dat Christus in ons nood, ons pyn, ingedaal het. Dis ook ‘n tyd van gereedmaking om nuwe lewe te ontvang.

Dis dikwels later dat ‘n mens besef hoe naby die Here daar in die donkerte was, terwyl Hy ons vir ‘n tyd in hierdie heilige ruimte gehou en toegevou het. Die lig van sy teenwoordigheid verlaat ons nooit nie.

Hulle wie se hoop sterk is, sien en koester elke teken van nuwe lewe. Erich Fromm

Dis asof hul so stralend verrys. . .

Hy bly altyd by ons, daarom hoef ons nie hooploos te voel nie, maar kan ons vol hoop bly!