1 Kor 13:13b En die grootste hiervan is die liefde!

Die laaste pers kers op die Adventkrans is vandag aangesteek.

My Pa skakel my baie opgewonde en sê dat daar iets naby sy huis is waarna ek moet kom kyk.

Erg nuuskierig loop ek toe saam met hom nader. . .

Op ‘n stedelike straathoek, genestel aan die voet van ‘n lamppaal, is daar ‘n “morning glory” blomplant.

Die omgewing verder is kaal, behalwe vir ‘n paar klippe en enkele rommelpapiere.

Toe is daar nog ‘n verrassing: effens eenkant is daar vier aparte blomme: drie pers en een pienk, soos die kleure van die vier Adventkerse! Die blomme lyk kompleet asof elkeen hul eie lig binne het. Die groen hartvormige blare rond alles perfek af.

Toe is daar nog ‘n groepering van drie pers blomme en een pienk blom met ‘n kruis onder tussen die pienk en een pers blom. . .

Asof dít nie genoeg is nie, is daar nog ‘n boodskap:

“I’m lovin’ it”, met ‘n hart daarby op die weggooipapier gedruk!

Dit herinner my dadelik aan Joh 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 

Dankie Here, dat U op die mees ongewone, verrassendste maniere na ons toe kom om U liefde aan ons te openbaar. Dankie dat ons U koms, die grootste teken van U ewige liefde vir ons, mag herdenk.

1 Joh 4:16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Daar waar ons U die minste verwag, daar is U juis! Wanneer ons die Koning van alle konings in ‘n paleis op ‘n troon sou soek, kom Hy as ‘n pasgebore baba in ‘n nederige stal.

Maak asseblief ons oë oop om U raak te sien, in alles om ons, in alles in ons.

U glorie skyn oral deur. U liefde dring alles deur. U is hier. U nuwe dag, U nuwe môre, is hier!

Colossians 1:27 For God wanted them to know that the riches and glory of Christ are for you Gentiles, too. And this is the secret: Christ lives in you. This gives you assurance of sharing his glory.

Hierdie week brand die pienk vreugdeskers op die Adventkrans. Dit is ‘n ligter kleur as die drie donkerpers kerse om die ligter boodskap van vreugde te simboliseer.

Matt 25:21 Kom in en deel in my vreugde!

Hand 2:28 U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

Rom 14:17 Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.

Egte vreugde is groot blydskap wat uit ‘n diep, onuitputlike Vreugdesbron binne ons kom.

Ons wêreld en sy gebeure het ‘n manier om die glimlag van ons gesig af te wil vee, maar niks kan die glimlag van ons harte afvee nie, selfs al wiggel daar ‘n traan oor ons wang. . . Diep, egte vreugde kan nie anders as om uit te mond in ‘n glimlag nie!

Die wêreld het nodig om hierdie standhoudende glimlagte te sien.

Soms kom ons vreugde tot uiting in ‘n bruisende vloei.

Ander kere word vreugde ervaar as ‘n rustige stroompie.

Dit bly altyd ‘n geskenk van Hom. Diepe dankbaarheid en vreugde loop saam.

Egte vreugde is nie ligsinnigheid nie, maar LIGhartigheid en LUGhartigheid (Geeswind) vanuit ‘n vreugdevolle Vaderhart gegee, Hy wat sy kinders oorlaai met die grootste geskenk: Homself!

Here, help ons asseblief om gedurende hierdie Adventtyd genoeg tyd by U stil te word om gevul te word.

C. S. Lewis het geskryf: “Joy is the serious business of heaven.” So, as ons nou al vreugde ervaar, ervaar ons alreeds hier hemel op aarde. Dan is die Koninkryk baie naby: Immanuel!

Lukas 2:13-14 Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Hierdie week brand die tweede Adventkers.

Vrede blyk iets ontwykends in ons wêreld vandag te wees.

U, die Prins van Vrede, die Vredevors, se aankoms in ons wêreld is besing deur die engele.

U het hierdie vredeslied bly sing deur u lewe op aarde en U wil hê dat ons hierdie lied moet voortsing en daarmee saam aan U die eer bring.

Dis egter slegs wanneer U ons toevlug is en ons ons lewens geheel en al in U hande toevertrou, dat ons in die regte posisie is om U vrede te ontvang om dit te kan bring na ‘n wêreld wat smag na vrede. So kan ons as ‘n menigte vredemakers leef.

Steek asseblief opnuut U vredesvlam in ons gewillige harte aan sodat ons U vredeslig rustig en met onverstoorbaarheid aan ons wêreld bring.

Wees ons genadig dat ons vlamme sal bly brand totdat U nuwe dag, u ligkoninkryk, u vredesryk, aanbreek.

(Foto: Suzette Fischer. Baie dankie!)

Die afgelope week het die eerste Adventsondag van 2017 aangebreek.

Die vier weke tot Kersdag is ‘n tyd van voorbereiding en afwagting.

Die woord “advent” beteken “aankoms”. Ons berei onsself voor om die geboorte van Jesus Christus te vier, sy eerste koms, en daarmee saam ook die viering van ons afwagting en verlange na sy terugkeer, sy tweede koms.

Die eerste van die vier adventkerse simboliseer hoop.

Ps 39:8 Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop.

U ís die enigste ware hoop in ons soms wanhopige wêreld. Slegs by U kry ons hoop vir elke dag, maar ook hoop vir U tweede koms.

Ons begeer dat ons lewens aangesteek sal word as hoop-kerse en sal bly opvlam na U. So sal ons as vurige hoopvlamme leef totdat U terugkeer, die Hoopvuur, op die volmaakte uur.

So word ons ook hoopbringers wat heenwys na die enigste ware Hoopbringer.

Later deur die dag het die oorblywende sneeu in wit lyne op die bergpieke gelê.

Die lyne herinner aan skryfpapier en 2 Kor 3:3Julle wys duidelik dat julle ‘n brief van Christus is. En Christus het vir ons gebruik om hierdie brief te skryf. Ons het nie die brief met ink geskryf nie. Nee, die Gees van God, God wat lewe, het dit geskryf. Hy het dit nie op plat klippe geskryf nie, maar op mense se harte.

Ons is u briefpapier, Here. Elke oggend wag daar ‘n skoon gelinieerde bladsy op ons harttafels waarop U ‘n brief wil skryf.

Hierdie grasvoël wat so vrolik sing laat my wonder of die lyne soms ‘n notebalk mag wees waarop U u musiekskrif wil skryf vir ‘n soet melodie. . .

Later die middag het die wolke amper soos ‘n vuur bo die berg gehang. Dit herinner aan die vuurkolom van U teenwoordigheid en ook aan U vurige liefde, U brandende hart vol liefde wat nie anders kan as om U liefde vir ons uit te druk nie. In Hosea 11:8 sê U “My liefde brand te sterk”.

Here, vergewe my asseblief wanneer ek so dikwels self my brief wil skryf, ek lê my pen neer sodat U skryf wat U wil. Ek kan in elk geval net krap. . . Help my asseblief, ek kan nie eens die pen sonder U hulp neerlê nie. Here, help ons om elke dag genoeg ruimte te skep en stil genoeg te sit sodat U u vurige liefdesbrief in U skone skrif op ons kan skryf.

U bruid is u lewende skryfpapier. Dankie, Drie-enige God, vir die onbeskryflike voorreg dat ons U liefdesbriewe, deel van u heilige skrif, hier mag wees.

Min sou ek weet dat daar na die vorige inskrywing nog ‘n wonderlike wit-verhaal aan die ontvou was. . .

Ons was vir ‘n paar dae Drakensberge toe en op 16 November, tydens die lente se laaste doodsnikke, het ons sneeu beleef!

Vroegoggend was daar ‘n missluier oor die berg gedrapeer. . .

Ons geduldige wag is later ryklik beloon met hierdie ongelooflike gesig. Die bergtoppe was spierwit, reinwit gekleed!

Ons kon nie ophou kyk nie! Soveel skoonheid is amper te veel om in te neem.

Die volgende woorde in verlede week se blog resoneer diep:

Kan jou hart se siel begryp na wie ek verlang? 
Dit is jy, my bruid in ewigheid.

Jesaja 54:10 Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet.

Hosea 2: 18-19 Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.

Die berg met sy spierwit sneeu en die wolksluier herinner aan ‘n bruilof, onder ‘n hemelblou lug voltrek. . . Hoe kan U bruid dan anders as om U lof te bring, U lof te besing tot in die hoogste hemele?

Terug by die huis, kyk ek op en sien die wit wolke en die blou hemel. . . Die besef kom dat ‘n diep kyk daarna dieselfde waarheid tuisbring.

Dit wil voorkom asof ons soms ver moet reis om die skatte reg onder ons neuse (ook bo ons neuse!) raak te sien, te ontdek. . .

Hier is die wit jakarandablomme van naderby.

Die reinwit skoonheid daarvan lei na verskeie Skrifgedeeltes. . .

Die nou verband tussen wit en heiligheid is duidelik.

Prediker 9:8 Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie.

Jesaja 1:18 Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.

Matt 17:1-2 Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg gebring waar hulle alleen was.  Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

Openbaring 3: 5 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

Openbaring 7: 9-10 Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

Die volgende woorde uit die lied Sekelmaan van Retief Burger tref diep:

En mensekind ek weet jou hart is broos.
Want die twyfel trek jou skeef, en jy’s leeg en moedeloos. Maar as jy my oë vir ‘n oomblik sou kon leen, sou jy ‘n bruid sien in wit geklee.
En weet jy wie dit is?
Kan jou hart se siel begryp na wie ek verlang?
Dit is jy, my bruid in ewigheid.

Dis hoe God ons as gelowiges sien, spierwit gewas in Sy bloed as sy bruid tot in ewigheid en dit is die reine, heilige waarheid!

Terwyl ‘n geplukte takkie jakarandablomme dag vir dag my met hul asembenemende skoonheid deur die makrolens bekoor, herinner my seun my aan die wit jakarandas. Ek het skoon daarvan vergeet dat daar ‘n straat in Pretoria met wit jakarandas is.

Ek wil toe so graag ‘n wit jakarandatakkie hê!

 

My seun herinner my daaraan dat dit baie ou bome is en dat die takke veels te hoog vir my sal wees om by te kom.

Dit word ‘n gebed, ‘n begeerte van my hart, om hierdie blomme deur my makrolens te mag sien.

Die volgende woorde kom by my op:

Ps 37:4-5 Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Here, ek vertrou op U.

So ry ek die straat af en die skoonheid van die bome is betowerend.

Na die kleurvolle, helderpers staan hulle in hul asemrowende skoonheid reinwit teen die blou lug. Die kontras tussen die wit blomme, die donker takke en die blou lug skep ‘n lewende kunswerk.

My seun was reg, die takke is te hoog vir my. Here, ek het feitlik al deur die hele straat beweeg. Hoe nou?

My oog gaan na die oorkant van die pad. Daar is twee mans besig om aan ‘n hek te werk en wat is daar by hulle? ‘n Leer! Ek loop oor die pad en rig my versoek aan hulle. Die een man knik met sy kop na die ander en beduie dat hy my mag help. Hy kom behulpsaam oor die pad, leer in sy hand, klim op en snoei-pluk maklik die klein takkie af!

Wetende dat hier iets groots aan die gebeur is, vra ek my weldoener sy naam: Godfrey. Later lees ek die betekenis van sy naam op: God’s vrede.

Dankie, Heer, dat U dit op hierdie dag beskik het dat ek weer moes leer om in alles op U te vertrou, in die klein en groot dinge.

U leer ook dat U vrede onder alle omstandighede, een van die grootste geskenke is wat U gee.

Al wat ons moet doen is om oor te gee en op U alleen te vertrou. U voorsien op die mees kreatiewe, verrassendste maniere!

Daagliks leer U ons deur ons lewe hoe om te lewe, U wat die weg, die waarheid en die lewe is.

(Volgende week wys ek die wit skoonhede van naderby.)

Hier in die Jakarandastad word ons nog steeds bederf met ‘n pers skouspel. . .

Vandat ek die jakarandablomme van naderby bestudeer het, kyk ek anders na elke boom.

Vier woorde kom een vir een by my op wanneer ek na hierdie bome kyk:  skoonheid, afhanklikheid, broosheid en eenheid.

Van ver af is dié blomme alreeds so mooi, maar dis die nader, dieper en stiller kyk wat hul ware skoonheid tuisgebring het.

Prediker 3: 11 Hy het alles mooi gemaak, Hy het aan die mens ’n visie gegee van die ewigheid. Tog kan mense nie die volle omvang van God se werk, van begin tot end, verstaan nie.

Here, daar is soveel skoonheid in ‘n jakarandablom.  Hoeveel te meer is die skoonheid wat U in elkeen van ons geplaas het, ons wat die kroon van U skepping is?

Die blomme is nie enigsins in staat om op hul eie hierdie pragvertoning te lewer nie. Dis hul verbintenis aan die boom wat dit moontlik maak.

Dit laat my dink aan U woorde in Johannes 15:4 Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

Dis in ons verbintenis aan die Boom van die lewe wat ons lewens blom.

Verder is daar ook die besef dat hoewel hul so asemrowend mooi is, is hul tog so broos. Hul leeftyd is kortstondig. Net so is ons ook maar broos en is ons almal net vir ‘n beperkte tyd hier voordat ons terugkeer van waar ons gekom het.

Jes 40:8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.

Dan is daar ook die eenheid tussen die blomme wat opvallend is. Dit laat my dink aan Paulus se woorde: Fil 2: 2 Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak.

Dis ook die eenheid tussen hulle wat die boom so asemrowend laat vertoon. Hoekom sukkel ons so dikwels om hierdie boodskap op ‘n diep vlak te verstaan en uit te leef?

Everyday objects and occurrences are windows into spiritual truths. Jean Fleming 

Deur hierdie venster, geverf in koningskleur pers, bied U nuwe perspektief!

 

Hoe dieper ek in die natuur indring, hoe aandagtiger ek na die kleinste blommetjie kyk en vlinders en insekte sien ronddans op geurige kruie, hoe meer glo ek in ‘n ongelooflike wonder. Ek kry die een verrassing op die ander en kom onder die diep oortuiging dat ‘n klein stukkie paradys hier vir ons aangebied word. Phil Bosmans

Die afgelope week het ek hierdie ongelooflike wonder beleef deur aandagtig na hierdie jakaranda-blommetjies te kyk. Vir ‘n oomblik het tyd gaan stilstaan. . .

Earth’s crammed with heaven, And every common bush afire with God: But only he who sees takes off his shoes. Elizabeth Barrett Browning

To see a world in a grain of sand and heaven in a wild flower. Hold infinity in the palm of your hand and eternity in an hour. William Blake

The real voyage of discovery consists not in seeking new landscapes, but in having new eyes. Marcel Proust

God comes to you disguised as your life. Paula D’Arcy

Dan moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U, hoe groot is U! Want deur die hele skepping klink dit saam Hoe heerlik Heer U grote Naam!

Ps 139:14b Wat U gedoen het, vul my met verwondering.

Here, het U blomme op aarde gemaak om diep herinneringe binne ons op te roep, om ons te laat onthou dat ons oorsprong ‘n Tuinparadys is? Plaas U egter ook daarmee saam ‘n verlange na ‘n terugkeer daarna, op ‘n dag? Is hierdie verlange dalk ‘n eggo van U verlange na ons?

Alhoewel dit ‘n tydelike ervaring was, weet ek dat dit ‘n heimweewekkende, heimnisvolle ervaring was, in ‘n ruimte anderkant tyd. . .