Sefanja 3:17 Julle God die Here is by julle. Hy is die Groot Soldaat wat julle sal red. Hy is bly en Hy juig oor julle. Hy is lief vir julle en Hy sing oor julle. (Bybel vir almal vertaling)

Vandat ek maar kan onthou, is voëls se geluide vir my baie kosbaar en dit raak my hart diep aan. Iemand het eenkeer gesê dat God met ons elkeen praat in ‘n taal wat ons verstaan.

Wanneer die vleiloerie so nou en dan sy opwagting in ons tuin maak en sing met sy kenmerkende geluid wat my laat dink aan ‘n bottel wat stadig leeggemaak word, los ek eers alles en luister aandagtig daarna…

 Vleiloerielied

die vleiloerie se bottelleegmaakroep
laat my dink aan U
wat Uself gegee het
ontledig, uitgegiet het
vir ons . . .
mag ek U gegewe oorvloed
nie opgaar, opdam nie
ook net uitgiet, borrelend uitgooi
U liefdeskringloop voltooi

Hy is altyd naby ons, Hy openbaar Homself elke oomblik aan ons. Ek wil dit nie misloop nie, ek wil net stil genoeg raak voor hierdie liefde sodat ek duidelik kan hoor hoe Hy oor my sing.

Vleiloerie

God comes to you disguised as your life – Paula D’Arcy

Ek was een van daardie mense wat indien my kind na my toe sou kom en rapporteer dat hy/sy 98% vir ‘n toets gekry het, ek sou wonder waar die ander 2% dan is. Op myself was ek nog harder en sou myself kasty oor verlore punte.

As daar iewers ‘n spelfout was, sou dit my bly pla en indien moontlik, moes ek dit onmiddellik regmaak. Dis asof iets binne my begin jeuk en ek dit nie kon los nie.

Soos jy seker kan sien, kon ek so fokus op die FOUT, dit wat nie perfek is nie… Ons is mos maar redelik blind waar dit by ons eie foute kom en my dogter het dit eendag so mooi opgesom: “Mamma sien nou al weer net die gat in die doughnut”! Dis woorde wat my diep laat nadink het, selfs tot in gate, in donkerte,  in . . .

Daar het ek ontdek dat daar nie iets soos perfeksie hierdie kant van die ewigheid bestaan nie en dat ek gerus maar kan ontspan en laat gaan. Die lewe het my ook geleer dat ek beslis nie in beheer is nie, dat die beste beheer wat ek oor my lewe kan hê, is om beheer oor te gee aan Hom alles perfek in sy hand hou. Om dit anders te sê: ek kry beheer oor my lewe deur beheer te verloor.

 Whole in One: Doughnut Wisdom

if you see the hole
but not the whole
you will end up in a hole . . .
if you see the hole
but also the whole
you will become whole

Ons geloof is altyd paradoksaal.

Jes 53:5b .. die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dit was net ‘n klein swaaibeweginkie bietjie te veel na regs, wat skielik soveel dinge in my laat beweeg het…

Ek was vanaand besig om hoender te sny met ons skerpste, grootste mes in my hand, toe die mes skielik my regterwysvinger deur die nael tref en so ‘n V in my nael sny. Na die aanvanklike tot-stilstand-kom skok, besef ek dat ek die bloedvloei moet stop. As so iets gebeur, is dit dadelik asof daar ‘n swerm gedagtes, gevoelens skielik so begin dwarrel in ‘n mens: eers die ongeloof dat dit so skielik, onverwags gebeur het, magteloosheid,  woede dat ‘n mens so lomp kan wees, dat ‘n mens dit sou kon verhoed het… So ‘n bietjie selfbejammering kom ook te voorskyn… Die pyn, seer klop ritmies, bloeiend deur my vinger.

Later, na die ontsmetting en die pleister daaroor, kom die refleksie. Ons is so broos en dit kan iets so klein, gerings wees wat ‘n mens opnuut bewus maak daarvan. Ek het nooit voorheen besef hoeveel keer ek my wysvinger gebruik nie, maar is nou pynlik, terdeë bewus daarvan.

In hierdie pyn, in hierdie broosheid, ervaar ek iets, vlugtig, ontwykend, van wat Hy moes ervaar het in sy verwonding.  Ek besef ook dat as kleikind ek maar net ‘n beperkte begrip van hierdie misterie kan hê. Daar is net ‘n diep weet dat die Koning van die heelal daarmee gewys het dat Hy verkies om in brose kleipotte te woon sodat ons ‘n bonatuurlike lewe alreeds hier kan leef.  Dit laat ‘n diepe dankbaarheid anderkant woorde, in my opwel.

Dit laat my verder dink dat Hy ons dieper wonde ook wil genees, daardie wonde waarvan net ek en Hy weet. Verder is ek ook in die laaste tyd pynlik bewus van my medemens se wonde, maar hoe ons aan mekaar verbind raak juis deur ons verwonding. Dis asof pyn, veral ‘n ander se pyn, ‘n mens buite jouself neem na ‘n groter ruimte en iets laat ervaar van ‘n groot misterie wat in lyding opgesluit is.

Intussen herinner die v op my vinger my daaraan dat ek, as verloste, in verwondering selfs oor verwonding kan leef en dat vreugde, vrede en vryheid daaruit vloei . . .

Kloppende pyn

Heiligheid klop altyd,
vibreer altyd in alles
deur alles
selfs, veral, ín pyn . . .
bloeiend na genesing

Origins Bloed en Vere 1 Klein

Openbaring 19:13 Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God”.