Johannes 3:16 God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Jesaja 53:5 Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

In die mensewêreld word Goeie Vrydag vandag gevier.

Ons geloof is ‘n paradoks: ‘n erg verwonde man, ons Here, hang aan ‘n kruis, sterf en ons noem dit “Goeie” Vrydag.

Dis omdat ons geloof ons altyd na ‘n dieper kyk uitnooi. . .

The cross signifies the wedding between God and humanity.  Ilia Delio

Christ on the cross bows his head, waiting for you, that he may kiss you,
His arms outstretched that he may embrace you,
His hands are open that he may enrich you,
His body spread out, that he may give himself totally,
His feet are nailed that he may stay there,
His side open for you, that he may let you enter there. – Bonaventure

Die volgende woorde is uit Retief Burger se lied Sekelmaan:

En weet jy wie jy is?
Kan jou hart se siel begryp na wie ek verlang?
Dit is jy, my bruid in ewigheid.
Een kyk van jou oë en die hout se pyn verdwyn.

Want dit is jy geliefde van my sy.
Ek is hier by jou, in jou, om jou…

Ek is hier by jou, in jou, om jou…..net lief te hê.

Mag ons vandag, met ons hartsoë wawyd oop, ver opkyk die wye hemelruimtes in, om opnuut te sien hoe U op Goeie Vrydag U ewige trou aan die ganse mensdom bevestig het deur U selfopofferende liefde. Dit het U álles gekos. . .

Mag ons vandag wanneer ons die brood eet en die wyn drink toelaat dat U liefde ons al dieper deurdring en dat ons hierdie onlosmaaklike band tussen ons as ons grootste werklikheid ervaar; U is altyd by ons, in ons en om ons.

Mag ons dan hierdie oorvloedige liefde wat U aan ons gee, met dankbare harte mildelik uitdeel aan ons wêreld, want dit is wat ware liefde doen.  Dit gee alles. . . Dit het U aan die kruis vir ons bewys op hierdie goeie Vrydag, die beste Vrydag ooit!

2 Kor 4:18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

‘n Paar dae gelede loop ek weer die keëls raak. Die bruin met groen omsoom, val so sag op die oog.

Toe sien ek dit: bo die oopgebreekte keël val die lig val in ‘n kroon, ‘n ligkroon!

U, die lig, het van u hemelkroon afstand gedoen en hier op aarde dit verwissel met ‘n doringkroon. . .

U dra u kruis en hierdie kroon van dorings vanuit u oneindige, oorvloedige hart vol liefde vir verlorenes.

U het daardeur dit vir ons moontlik kom maak het om vir ewig saam met U te lewe, ‘n kroon by U te ontvang!

Paulus skryf in 2 Tim 4:6-8 Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

Here, dit gee ons soveel moed om voort te gaan op ons pelgrimspad. Al val en faal ons so dikwels op hierdie pad van selfopoffering en al voel dit vir ons so dikwels swaar en steil, weet ons hoe dit eindig! Ons is so diep afhanklik van U in elke oomblik.

Wees ons genadig, sodat ons ons oë op U gefokus sal hou, daar waar U op u hoë hemeltroon sit, maar ook hier binne ons waar U besig is om ons elke dag al meer en meer te transformeer na u beeld en ons so gereed te maak vir hierdie oorwinnaarskroon.

So, al mag dit soms vir ons voel asof ons net ‘n doringkroon dra, het ons die ongelooflike hoop en vooruitsig van ‘n hemelse verwisseling. Dankie vir soveel tye vol genade wat U ons iets daarvan alreeds hier laat ervaar. . .

Onlangs loop hierdie twee keëls my raak en bied ‘n pragtige en kragtige metafoor aan. . .

Die een bo die ander lê die twee daar; die onderste keël is feitlik heel terwyl die een op die trappie oopgebreek het . . .

Wil ons dalk so graag heel soos die onderste keël wees, maar voel ons so gebroke soos die boonste een?

In ons Here se hand is dit goeie nuus om gebroke te wees, Hy wat self gebreek is vir ons.

Paulus skryf in 2 Korintiërs 12:9 :

(1983-vertaling) Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

(Bybel vir almal) Maar Hy het vir my gesê: “Ek is genadig vir jou, en dit is genoeg, want wanneer iemand weet dat hy swak is, dan word my krag in sy lewe meer.”

(Boodskap) Toe sê die Here uiteindelik vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.”

U, die Lig, is altyd by u kinders, veral wanneer hul uitroep na U vanuit hul gebrokenheid.

Nooi U ons dalk in hierdie Lydenstyd uit om daarvan te vas om voor te gee dat ons sterk en onaantasbaar is en dat ons besef hoe swak en kragteloos ons werklik sonder U is?

Hierdie woorde van Jesus uit die bergprediking bied onbeskryflike hoop:

Matthew 5:3 “Happy are those who know they are spiritually poor; the Kingdom of heaven belongs to them!

Dis eers wanneer ons oopgebreek is dat ons ten diepste besef: ons dra wel wonde, maar ons is ook die saaddraers van die ewige Skat!!

Laat ons dan nou vas en nie probeer toehou en vashou nie, sodat ons as oop, dankbaar en vrye Koninkrykskinders kan leef. . .

Jes 43:19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom;

‘n Bietjie meer as ‘n maand gelede kom help my skoonsus en swaer ons om ons oorgroeide tuin in toom te probeer kry.  ‘n Woeste snoeiproses volg. . .

Dit blyk so genadeloos te wees en veral die Yucca-plante het erg deurgeloop:

Ek moes my skoonsus, wat vertroud is met snoeiwerk, vertrou dat hul weer sou groei, hoewel alle tekens die afgelope maand die teendeel gewys het. Soos geamputeerde ledemate het hul opwaarts gewys. . .

Ongeveer 40 dae later sien ek die eerste tekens van nuwe lewe: hulle pryk triomfantelik omhoog!

Nuwe lewe is altyd aan die deurbreek, in onsigbare donker. Ons moet net die Tuinier vertrou, ook wanneer Hy sy snoeiwerk doen.

Onder Sy hande is daar nie iets soos ‘n punt, ‘n “full stop”, ‘n einde nie, maar wel ‘n nuwe begin, ‘n nuwe groeiproses wat net Hy kan bewerk.

2 Korintiërs 5:17,18 Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God

Ons deel is om Sy prosesse te bly vertrou en Hom te vra om ons te help om te bly glo en om geduldig te wag:

Jeremia 29:11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Dié nuwe blaartjie herinner aan ‘n komma wanneer die foto omgedraai word:

By Hom is dit altyd ‘n komma, nie ‘n punt nie!

¡uǝᴉs ǝʇ ƃǝɹ ɯo ʞʎʞ oqǝʇsɹǝpuo suǝɯ ʇǝoɯ sɯos ʎɯ ʞʎ˥

Dit is die grootste punt vir ons om te begryp: ‘n nuwe manier van kyk, van sien, word gevra. . .

Dié proses is toe ‘n groeiproses, ‘n genadeproses, wat uitloop op ‘n groter lewe. . .

Daar is áltyd die belofte van groei in die teenwoordigheid van Sy lig, al voel ons ook hoe afgestomp en verwond. . .

Ons kan daarin glo en daarop hoop want ons wéét Lydenstyd loop altyd uit, lei na Opstandingsondag!

Johannes 11:25-26 Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”