Met sonsondergang op Oukersaand het hierdie toneel voor my afgespeel:

Die vurige gloed in die hemelruim van hierdie heilige nag was ‘n stille getuienis dat U ons so liefhet dat U so naby aan ons wou kom dat U bereid was om Uself in mensvel tuis te kom maak; Immanuel.

Aan die vooraand van 2019 kan ons weet dat U, God met ons, altyd die pad saam met ons loop, ongeag hoe ons pad daar sal uitsien. Sonder U kan ons nie wees nie, dis onmoontlik.

Matt 28:20 En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ons het niks om te vrees nie, in U teenwoordigheid kan ons net ten volle onsself wees en word wie U ons geskep het om te wees!

Dit vra egter gereelde stil, eenkant gebed- en refleksietye saam met U. . . So word U beeld word al meer en meer sigbaar in die stil poele van ons harte. . .

En word U al meer en meer sigbaar in ons wêreld.

Mag ons hierdie nuwe jaar, met harte wat smag na meer van U, ruim en ruimhartig tyd daarvoor inruim. . .

1 Tess 5:16-18 Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Die Vreugde-kers is verlede Sondag met die derde Adventsondag aangesteek.

Eerskomende Sondag is dit die Liefde-kers se beurt.

Terwyl my stiefpa so lank in ICU was, het daar kersversierings op ‘n dag in die voorportaal van die hospitaal hul verskyning gemaak…  JOY, in hoofletters, het ‘n ereplek gekry.

Dit alles terwyl hy stadig besig was om te sterf. . .

Al bloei ons harte, gee die wete dat Hy ons so liefhet, dat sy liefde altyd na ons en deur ons vloei, aan ons ‘n diep, stille, egte en standhoudende vreugde. Hoe dit gebeur weet mens nie, maar die werklikheid daarvan kan ervaar word. . . Niks kan hierdie diep vreugde van ons wegneem nie, omdat die Bron standhoudend en ewig is. Dit hou ons staande te midde van enige iets wat oor ons pad kom. Wanneer ons gereeld stil genoeg voor Hom raak, kom die bewuswording daarvan, bo alle begrip van ons kleine verstand en bietjie verstaan.

Vreugde en liefde is onlosmaaklik verbind.

Johannes 15:9-11 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

My hartewens is dat elkeen van ons hierdie Kersfees hierdie diep vreugde en liefde sal ervaar van Hom wat dit vir ons kom leef het.

Die eerste Adventkers, die hoopkers, is die afgelope Sondag aangesteek.

In die middel van hierdie hoopweek is my stiefpa Willem oorlede.

Dis by iemand se sterfbed waar mens ten diepste bewus word van ons eie sterflikheid, maar ook van ons onsterflikheid.

Dag vir dag oor ‘n maandtydperk in die hospitaal kon ek ervaar hoe sy tentwoning besig was om afgebreek te word.

2 Kor 5:1 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

Sy vleestent het nou hopeloos te klein en beperkend geraak en moes plek maak vir ‘n groter lewe wat besig was om deur te breek. . . Byna soos ‘n metamorfose.

‘n Hemelburger is teruggebring na sy ewige huis toe.

Fil 3:20 Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

Wanneer ‘n mens die stil getuie van hierdie heilige gebeurtenis was, het mens opnuut ‘n nuwe taak; ons moet hoop aangee en nie hoop opgee nie!

1 Petrus 1:3-4 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

1 Kor 15:54-55 En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

Ons gaan jou baie hier mis, Willem, maar hierdie waarhede laat ons met hoop leef en bring die grootste denkbare, of dalk eerder ondenkbare troos, totdat ons jou weer gaan sien in ons ewige woning.