Ek verkyk my daagliks aan die skouspel van herfskleure:

Here, het U een van u aanskoulikste en aangrypendste natuurverskynsels vir die herfsseisoen bewaar, sodat ons daaraan herinner kan word hoe verruklik mooi dit vir U is wanneer ons nie meer vashou en -klou nie, maar laat gaan?

Wil U hê dat ons met elke gewillige sterf aan self en oorgawe aan U wil ervaar dat ons dieper in U hart ingetrek word?

Rainer Maria Rilke se woorde weerspieël vir my iets daarvan:

I yearn to be held in the great hands of your heart.
Oh let them take me now.
Into them I place these fragments, my life,
And you, God, spend them however you want.

Wanneer ons herfs op hierdie manier beleef, bring dit vir ons ‘n totale nuwe uitkyk op ons lewens. . .

 

‘n Paar dae gelede toe ek wegry van die huis af en opkyk, sien ek die bloue hemel en die pragtigste wolke. Ek moes net stop om ‘n paar foto’s te neem en net daar, so totaal onverwags, verskyn ‘n ongelooflike geskenk:

Wat ‘n seën was daar nie in hierdie oomblik nie. . .

Jesus se doop kom by my op:

Lukas 3:21-22  Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Net soos die Geesduif destyds op Jesus neergedaal het, daal die Geesduif vandag nog op ons neer om ons diepste identiteit in hierdie wêreld aan ons te bevestig: ons is Sy geliefde seuns en dogters. Hierdie band is onaantasbaar, onverganklik en ons diepste werklikheid.

Here, help ons om biddend elke dag die hemel geopen te sien en toe te laat dat u Gees ons al meer en meer vul om as U geliefde kinders in hierdie wêreld te leef.

Die duif se vlerke is oopgesprei, asof in ‘n seënwens. Wat ‘n voorreg om bewus te wees dat ons in elke oomblik onder U seën leef. Daarna kom die ongelooflike bewuswording dat U ons seën om te kan seën, om ‘n seën te wees vir ‘n wêreld wat elke dag daarna smag.

Hierdie paar roesfoto’s het ‘n kragtige boodskap. . .

‘n Naby kyk daarna bied ‘n herinnering daaraan dat hierdie aarde en sy verganklikheid nie die plek van ewige skatte is nie.

Jesus sê vir ons in Matt 6:19-21 (NLV) “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Uit die ABA-vertaling:  “Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.”

Miskien is dit nodig om onsself aan die einde van elke dag die vraag af te vra: watter ryk was vandag die invloedrykste in my lewe?

Ons hartsoë moet oop bly daarvoor, want dit vra ‘n ander soort sien.

Paulus beskryf dit so: 2 Cor 4:18 (TPT) because we don’t focus our attention on what is seen but on what is unseen. For what is seen is temporary, but the unseen realm is eternal.

Here, mag ons elke dag in ‘n roes van diep, blywende blydskap leef omdat ons weet dat ons deel is van U ewige koninkryk en ook omdat ons die ongelooflike voorreg hier op aarde het om getuies daarvan te wees deur ons lewens.

Spreuke 3:5 (DB) Moenie dink jy weet altyd die beste nie…

‘n Rukkie gelede het hierdie ongelooflike storie reg voor my ontvou:

Hierdie roosboom het van ver af so mooi gelyk, maar toe ek nader gaan, sien ek luise, luise en luise wat in gelid daarop sit. . .

Ek moet bieg dat ek ietwat teruggedeins het. Dit was regtig nie ‘n mooi gesig nie. Onmiddellik wou ek opspring en die probleem oplos met ‘n gifstof, maar iets het my laat wag en kyk. . .

Uit die bloute verskyn sy toe:

‘n Liewenheersbesie!

Voor my oë sien ek hoe sy die gedekte feesmaal geniet!

‘n Rukkie later lyk dit so:

Hoeveel keer, my Heer, wil ek oorhaastig met my eie gif(tige) ingrypings ‘n probleem probeer oplos, terwyl U planne ingrypend beter is. Deur my oorhaastige aksies staan ek dan op hierdie manier in die pad van U delikate, volmaakte en fyn uitgewerkte plan. Vergewe my daarvoor.

Spreuke 3:5 (1983) Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

Jesaja 55:8 (DB) Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle dit doen.

Skenk ons asseblief U wysheid.

Soms, soos ek hierbo beleef het, liewe Heer, wil U hê ons moet wag totdat U u soort lieweheersbesies stuur op u volmaakte tyd en manier. Help my om altyd op U te bly wag.