Joh 6:51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

 

Ons het hierdie tiptol tydens ons afgelope vakansie in die Drakensberge dopgehou:

Daar was vir hom ‘n oorvloed van bessies om te eet, hy kon net aansit vir ‘n feesmaal. . . Reg hier voor ons oë kon ons beleef hoe die Here vir sy voëls sorg.



En ons mensekinders? U sorg elke dag vir ons vir ons daaglikse brood, maar meer as dit is Uself die volmaakte brood wat ons in elke oomblik wil voed. Gee asseblief aan ons ‘n ewigdurende honger na U, want dis U alleen wat ons vol, heel en gesond kan maak.

U volhoudende sorg laat al U kinders heelhartig en volmondig saamstem dat U alleen die ware, lewende brood is en dat U Uself vir ons gee en ons die lewe in oorvloed kan geniet tot in alle ewigheid saam met U!

U gee hierdie lewensbrood aan ons in oorvloed en totaal onverdiend. . Onbeskryflike genade! Ons reaksie daarop is om U daarvoor te dank en te bly dank met ons lewens in ‘n loflied en gebed tot U eer, want ons is gevul met ons Heer. . .

Galasiërs 2:20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.