Hier in die Jakarandastad word ons nog steeds bederf met ‘n pers skouspel. . .

Vandat ek die jakarandablomme van naderby bestudeer het, kyk ek anders na elke boom.

Vier woorde kom een vir een by my op wanneer ek na hierdie bome kyk:  skoonheid, afhanklikheid, broosheid en eenheid.

Van ver af is dié blomme alreeds so mooi, maar dis die nader, dieper en stiller kyk wat hul ware skoonheid tuisgebring het.

Prediker 3: 11 Hy het alles mooi gemaak, Hy het aan die mens ’n visie gegee van die ewigheid. Tog kan mense nie die volle omvang van God se werk, van begin tot end, verstaan nie.

Here, daar is soveel skoonheid in ‘n jakarandablom.  Hoeveel te meer is die skoonheid wat U in elkeen van ons geplaas het, ons wat die kroon van U skepping is?

Die blomme is nie enigsins in staat om op hul eie hierdie pragvertoning te lewer nie. Dis hul verbintenis aan die boom wat dit moontlik maak.

Dit laat my dink aan U woorde in Johannes 15:4 Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

Dis in ons verbintenis aan die Boom van die lewe wat ons lewens blom.

Verder is daar ook die besef dat hoewel hul so asemrowend mooi is, is hul tog so broos. Hul leeftyd is kortstondig. Net so is ons ook maar broos en is ons almal net vir ‘n beperkte tyd hier voordat ons terugkeer van waar ons gekom het.

Jes 40:8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.

Dan is daar ook die eenheid tussen die blomme wat opvallend is. Dit laat my dink aan Paulus se woorde: Fil 2: 2 Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak.

Dis ook die eenheid tussen hulle wat die boom so asemrowend laat vertoon. Hoekom sukkel ons so dikwels om hierdie boodskap op ‘n diep vlak te verstaan en uit te leef?

Everyday objects and occurrences are windows into spiritual truths. Jean Fleming 

Deur hierdie venster, geverf in koningskleur pers, bied U nuwe perspektief!

 

Hoe dieper ek in die natuur indring, hoe aandagtiger ek na die kleinste blommetjie kyk en vlinders en insekte sien ronddans op geurige kruie, hoe meer glo ek in ‘n ongelooflike wonder. Ek kry die een verrassing op die ander en kom onder die diep oortuiging dat ‘n klein stukkie paradys hier vir ons aangebied word. Phil Bosmans

Die afgelope week het ek hierdie ongelooflike wonder beleef deur aandagtig na hierdie jakaranda-blommetjies te kyk. Vir ‘n oomblik het tyd gaan stilstaan. . .

Earth’s crammed with heaven, And every common bush afire with God: But only he who sees takes off his shoes. Elizabeth Barrett Browning

To see a world in a grain of sand and heaven in a wild flower. Hold infinity in the palm of your hand and eternity in an hour. William Blake

The real voyage of discovery consists not in seeking new landscapes, but in having new eyes. Marcel Proust

God comes to you disguised as your life. Paula D’Arcy

Dan moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U, hoe groot is U! Want deur die hele skepping klink dit saam Hoe heerlik Heer U grote Naam!

Ps 139:14b Wat U gedoen het, vul my met verwondering.

Here, het U blomme op aarde gemaak om diep herinneringe binne ons op te roep, om ons te laat onthou dat ons oorsprong ‘n Tuinparadys is? Plaas U egter ook daarmee saam ‘n verlange na ‘n terugkeer daarna, op ‘n dag? Is hierdie verlange dalk ‘n eggo van U verlange na ons?

Alhoewel dit ‘n tydelike ervaring was, weet ek dat dit ‘n heimweewekkende, heimnisvolle ervaring was, in ‘n ruimte anderkant tyd. . .

When you really gaze at something, you bring it inside you. John O’Donohue

Ek het lank en stil by hierdie gras gesit.

Hierdie veld is onlangs afgebrand en tussen die swart stopsels het hierdie nuwe groen blaartjies verrys.

‘n Buite-landskap word ‘n binne-landskap. . .

Soms mag dit voel asof ‘n verterende vuur deur mens trek en dit ‘n roetlandskap agterlaat.

Maar tog, op ‘n dag, heel onverwags, verrys die nuwe groen lewe. . .

Dié wonderlike waarheid dat dood nooit die laaste sê het nie, word oor en oor bevestig in elke klein groen opstanding, die hele veld vol.

So selfs al mag dit voel asof gedeeltes van ons binne-landskap afgebrand het, is dit ‘n uitnodiging om net hoopvol en geduldig te bly wag, al verstaan ons nou nog net mooi niks nie.

Life can only be understood backwards; but it must be lived forwards. Soren Kierkegaard

Hier is ons Here, al moet daar soms ‘n vuur deur ons gaan, kan ons weet dis die werking van U vurige liefde. U sê in Hosea 11:8 My liefde brand te sterk.

U palm is op ons en U plan is altyd ‘n groeiplan. Soms moet U van ons binnegras wegbrand om plek te maak vir nuwe lewe om deur te breek.

Tog weet ons na die tyd dat ons geloof versterk is en dat U ons nader in U brandende liefdeshart ingetrek het, hoewel dit vir ons ‘n pynlike proses was.

Ons weet ook daarna dat alles alleen kon gebeur het as gevolg van U opstandingskrag wat deur ons vloei. U plan is lewe, nie dood nie!

Efes 3:20-21 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Kom ons kyk vandag met nuwe oë in hierdie lenteseisoen na elke groen spatseltjie kleur en besef dat die lenteprag getuig van Sy oneindige, onuitputlike lewegewende krag!

Here, U wonderdade is te groot vir ons, daarom raak ons stil en kan ons hoor hoe elke groen blaar hierdie allermooiste opstandingslied uitjubel en die koorklanke weerklink tot in die hoogste hemele.

‘n Hart gevul met die brandende vlam van U liefde ervaar dit ten diepste . . .