Joh 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

‘n Ongelooflike ervaring wink: ‘n pelgrimstoer na Rome en Assisi. . .

Daarmee saam kom die uitnodiging om ‘n gemaksone te verlaat en weg, verder te reis.

Dit kos deeglike beplanning, asook besinning om te besluit wat saam gaan reis of nie. Dinge wat voorheen as noodsaaklik beskou is, sal te swaar raak om saam te dra. . . Dit geld nie net vir dit wat binne ‘n tas gepak word nie, maar ook vir dít wat binne saam gaan reis. . .

Die insig kom: om in die lig van U teenwoordigheid te reis, vereis dat mens lig reis.

(Daar gaan dus vir die volgende paar weke nie bloginskrywings wees nie. Seën vir julle almal, waar julle ook al is.)

Uit Jes 60:1 Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.  

Die son het hierdie week só mooi op hierdie herfsblare geval.

Die blare het vir my so lig en sorgvry heen en weer in die wind geswaai, so asof die amper-val na die grond toe, geen probleem is nie.

Toe ek na hierdie blaar kyk, sien ek die lig: ons kan maar val, want die lig val áltyd op ons!

Here, help ons asseblief om te onthou dat U áltyd by ons is en dat dit nie afhang van waar ons onsself bevind nie.

If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer

Sou ‘n mens nie bekend wees met herfsseisoene nie, sou dit kon lyk asof ‘n tragedie homself afspeel: die blare van die boom word afgesny van hul normale voedingsbron, hulle kan nie meer fotosinteer en word as’t ware geamputeer. Hulle val na die grond. . .

Tog kon die herfsblare, net voor hul val, vir die eerste (en enigste) keer hul dieper kleure, wat altyd deur ‘n groen buitelaag bedek was, tentoonstel in ‘n skouspel van asemrowende vurige kleure wat andersins nooit daar sou wees nie.

Daar is met herfs, soos in elke ander seisoen, altyd die baie-groter-as-wat-ons-kan-verstaan-proses aan die gang.

Jesus se woorde in Lukas 9:24 “want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” herinner ons daaraan.

Verder is daar ook sy woorde in Johannes 10:28 “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Here, help ons asseblief om in ons lewens die herfsblare wat U wil laat val in volle oorgawe en vertroue te laat gaan om sodoende ruimte te skep vir die nuwe seisoen waarmee U besig is.

So word dít wat oënskynlik kon lyk na ‘n treurspel, eerder ‘n meesleurende melodie in Sy keurspel en word ek en jy genooi om in te val . . .

Jesaja 55:9 soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Daar is soveel dinge wat op die oomblik gebeur wat mens kan laat voel asof alles ten gronde gaan. . .

Toe gaan loop ek ‘n draai in die tuin en kry ‘n visuele demonstrasie wat gerusstelling, hoop en troos bring…

Die herfsblare is besig om te val, hulle gaan letterlik en figuurlik ten gronde.

Maar: daar tussen die blare, wat onafwendbaar gaan val, is die versekering, die belofte, dat daar ‘n nuwe seisoen op pad is: die beskermende skutblare wat die nuwe delikate lewe daar binne veilig bewaar en beskut teen die ongenaakbare winterkoue totdat die presiese tyd aanbreek en die nuwe blaartjies, in die nuwe seisoen, in liggroen lewe kan oopvou, ontvou. . .

Die volgende woorde van die Psalmdigter kom by my op:

Ps 46:8 Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting. Sela

Here, dankie dat U in elke seisoen van ons lewe by ons is. U het altyd ‘n groter plan wat soveel groter is as wat ons ooit kan dink of verstaan.  Wat ons wel weet is dat U ons altyd in beskerming hou in elke seisoen van ons lewens.

Ek gaan lees wat Sela (aan die einde van Ps 46:8) beteken:

SELAH is a Hebrew word meaning ‘a musical interlude; to pause and think about what was just said or sung; or to pause and watch for a visual demonstration of what was said or sung.’

Dis asof so ‘n groot en ingrypende waarheid soos hierdie, tyd en stilte nodig het om in te sink.

U gee ook in hierdie herfsseisoen vir ons ‘n visuele demonstrasie van hierdie wonderlike waarheid. Ons dank U daarvoor, ons weet dat niks ons kan skud uit U veilige beskutting nie.