‘n Rukkie gelede loop ek van buite af in huis toe en maak die stoepdeur oop. Ek weet nie wat dit was nie, maar iets sê vir my om af te kyk. Baie naby van waar ek sou trap, lê daar iets baie vreemds op die teëls. Regtig vreemd.
Ek buk af. Dis een of ander gogga wat verstrengel geraak het. Foeitog. Maar voordat ek iets verder doen, gaan haal ek my kamera. Hy sou seker in sy toestand nie vinnig kon wegbeweeg nie.
Saggies en versigtig (met ‘n stokkie) maak ek hom later los van dit wat hom verstrengel het.
Ek bring weer die kamera nader. Sjoe, ek moet sê, ek gril nogal. Van kleins af het ek nie ‘n natuurlike voorliefde vir goggas nie. Maar wanneer mens nader gaan, stil word en op ‘n oop manier kyk (waarmee die kamera my help), krimp die gril tog en maak plek vir verwondering.
Dit het reuse voelers! G’n wonder hulle het verstrengel geraak nie. Eintlik is hy so mooi. Daardie blinkgroen kleur is iets besonders. So ook sy pote. Hy is regtig ‘n ongewone besoeker. Ek en hy sit lank op die stoep so by mekaar op die grond. Hy lyk darem skadeloos.
Later het ons hom buite gaan sit, waar hy beter hoort.
Ek gaan doen navorsing. Dis ‘n muskuskewer (Engels: Musk Beetle). “Die Muskus-kewer is ‘n lang, smallyf-langhoringkewer wat baie lang antennas het. Die larwes leef in die bos van wilgerbome (veral stokke), wat tot drie jaar neem om te ontwikkel. Die volwassenes kan gedurende die somer op blomme en boomstamme naby vleilande gevind word. Die volwassenes straal ‘n muskusafskeiding uit wanneer hulle bedreig word, vandaar die algemene naam.”
Sjoe, wat ‘n lang tyd om te ontwikkel: drie jaar! Verder hoort hy volgens hierdie inligting glad nie hier nie. Hier is geen wilgerbome naby ons en ook nie ‘n vleiland in ons klein voorstedelike tuin nie. Die naaste plek wat aan hierdie beskrywing voldoen is die Rietvleidam, sowat tien kilometer van ons af. Maar hoe sou hy hier beland het? Dit is weer een van die lewe se raaisels.
Hoe wonderlik dat hy geen reuk afgegee het nie (en dus seker nie bedreig gevoel het deur my teenwoordigheid nie) en dat hy my toegelaat het om hom vry te maak. Ek is dankbaar daarvoor.
Onsself raak dikwels so verstrengel, so vasgekoek, in ons lewens en weet nie hoe om los te kom nie.
Daag hierdie ontmoeting my uit met ‘n vraag wat uitloop op ‘n begeerte?
leef ek so verstrengel
so vasgevang
dat ek so min
kan ontvang
van dit wat my Losser
na my wil bring
deur geskapene, engel
of Homself?
mag dit my hartsbegeerte wees
dat ek verlos mag word
van alles wat my bind
sodat ek fyn gevoelig
ontvanklik en vry kan leef
deur die pad te vat
wat U vir my begeer