Daar is niks soos die lenteseisoen om ons te herinner aan hierdie woorde van Jesus nie:

Joh 11:25-26 Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

Op die perfekte wentelbaanposisie, in die lenteseisoen, kom daar vanuit die oënskynlik lewelose wintertakke nuwe lewe na vore. Hierdie lewe was besig om in onsigbare donkerte te vorm. Die wintertakke was toe nie dood nie, maar swanger van belofte! Geen grens kon die nuwe lewe terughou nie.

Dis asof hierdie lentebloeisel in ‘n reinwit opstandingskleed triomfantelik hierdie waarheid bly verkondig dat nuwe lewe altyd deurbreek.  Die spierwit meeldrade met hul goue koppe asook die nuwe groen blare reik opwaarts: padwysers na die ewige Ligbron.

Die oënskynlik lewelose hout dra toe al die tyd nuwe lewe!

Boonop kan ons vashou aan die grensverskuiwende belofte: “Christ has died, Christ is risen, Christ will come again.”

Mag hierdie waarheid elke dag ‘n totale omwenteling in ons lewens teweegbring!

Joh 10:29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

Iemand het onlangs vir my hierdie houtbeeld as geskenk gegee. Ek hou dit gereeld in my hand, maak dan my oë toe en voel ek wat ek gewoonlik net sien: die Hand, die mens, die liefde . . .

Só hou God ons elke oomblik in die holte van sy hand. Sy koesterende nabyheid en troue liefde is altyd daar, dis ‘n onverbreekbare band.

Dieselfde hande wat die ganse heelal geskep het, hou ons altyd vas.

Uit die Passion Translation van Ps 16:8 : Because You are close to me and always available, my confidence will never be shaken, for I experience your wrap-around presence every moment.

Daarom kan ons ontspan en met volle oorgawe en vertroue tot rus kom in Hom met die stille versekering dat daar niks is wat ons uit Sy hand kan ruk nie, ons is werklik onaantasbaar!

Daar is niks soos die dood van ‘n geliefde om ‘n mens weer by die diep vrae oor lewe en dood te laat stilstaan nie.

Ek wil myself elke dag afvra watter pad ek kies: die doodspad of die lewenspad? Ons staan hoeveel kere ‘n dag voor ‘n kruispad.

 

Besinning

lewe ek my in die dood in
of dood ek my in die Lewe in?
dít is die sin van onsin –
so word ons Syne
en Hy ons s’n

Wanneer ons elke dag telkemale sterf aan onsself, ons planne en ons wil, is ons lewe op die regte pad. Hierdie selfopofferende pad voel egter so dikwels na ‘n doodspad. Dit vra ‘n gedurige oorgawe, soos Jesus in die tuin van Getsemane – “Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

Francis van Assisi en Ma Jannij het Jesus se pad in hulle lewens nagevolg.

Fil 1:21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

1 Kor 1:25 Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

In ons geloof lê die grootste wyshede verskuil in die grootste paradokse.

Gebed: Here, help my asseblief om U opstandingskrag alreeds hier daagliks te ervaar met elke klein bietjie sterf-aan-self.

Matt 5:4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

Dis vanoggend Ma Jannij se dankdiens.

Ons harte is seer en ons ontvang troos en bemoediging vanuit verskeie oorde. Hierdie perskebloeisels het ook vir my ‘n spesiale boodskap gebring. Dis nog winter, maar hier is hulle alreeds. . .

Ma Jannij, ek het lank by hierdie bloeisels stil geword en besef dis ‘n metafoor vir jou lewe: jy het dapper jou brose, skone kroonblare op jou kenmerkende stil manier oopgevou om jouself beskikbaar te stel vir Sy lewenskrag om in jou en deur jou te vloei.

Met liefde, blydskap, volle oorgawe en selfopoffering het jy geleef sodat jou lewe ‘n ryke vrugte-oes kon nalaat.

Psalm 16 was jou gunsteling psalm. Uit die laaste vers kom die woorde: U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

Ma Jannij, deur die verlies van jou lewenskroonblare weet ons daar het ‘n oorwinnaarskroon te midde van oorvloedige hemelse feesblydskap vir jou gewag, want dis Koningsbloed wat deur jou gevloei het, jou lewe laat bloei het. . .

So beleef ons in hierdie nuwe seisoen U seën te midde van ons seer en al is ons harte broos, bring dié wete vir ons bomenslike troos.