Daar is ‘n gedig van Ronald Rolheiser wat my altyd aan die hart gryp veral nou weer na die intense herlewing van die opstandingsgebeure:

Mary Magdala’s Easter Prayer

I never suspected
Resurrection
and to be so painful
to leave me weeping
with joy
to have met you, alive and smiling,
outside an empty tomb
with regret
not because I’ve lost you
but because I’ve lost you in how I had you –
in understandable, touchable, kissable, clingable flesh
not as fully Lord, but as graspably human.

I want to cling, despite your protest
cling to your body
cling to your, and my, clingable humanity
cling to what we had, our past.

But I know that . . . if I cling
you cannot ascend and
I will be left clinging to your former self
… unable to receive your present spirit.

Die opstanding is ‘n tyd waarin groot vreugde en hartseer nou verweef is. Iets ongeloofliks het plaasgevind, maar die lewe soos dit was, is onherroeplik verby. Iets nuuts, groots en onverstaanbaars het gebeur. Ons besef dat ons hoegenaamd nie in beheer is van dit wat nou aan die gebeur is nie. En vir ons wat mens is, is dit pynlik. Virginia Satir slaan die spyker op die kop met die volgende woorde: Most people prefer the certainty of misery to the misery of uncertainty. Ons wil dikwels nie verander nie.

Soos Maria, wil ons ook bly vashou aan dit wat vir ons geliefd en bekend is, maar dis net wanneer ons laat gaan, dat ons die nuwe opstandingslewe in al sy volheid kan ontvang.

Ons moet onthou

ons wil vasklou en vashou
die status quo behou
maar ons kan slegs
die nuwe lewe ontvang
nadat ons ont-klou en ont-hou

So kan die opstanding oomblik vir oomblik, dag vir dag, deur ons gebeur. Dink net hoe anders ons vashouende wêreld kan lyk as al meer en meer van ons as opstandelinge daarin leef.

Heilige Week se klimaks is nou bereik met Jesus se opstanding uit die dood. Die graf is leeg en Jesus leef!

Dit was ‘n historiese gebeurtenis, maar ons voel vandag steeds die rimpelings daarvan en dit sal nimmereindigend van geslag tot geslag voortgaan.

Die Paasgebeure bly die grootste misterie van alle tye. Wat beteken dit vandag vir ons?

Ronald Rolheiser skryf in sy boek The Passion and the Cross:  What the resurrection of Jesus promises is that things can always be new again.

Jesus se opstanding beteken vir my dat daar nie iets soos ‘n doodloopstraat is as ons die Paaspad loop nie.

Kyk na Petrus wat Jesus verraai het. Jesus het vooraf vir Petrus gesê dat hy Hom gaan verraai. Tog, ten spyte van hierdie vooraf kennis, het Petrus Jesus verraai. Het Jesus hom afgeskryf? Nee. Hy het hom weer ‘n kans gegee. Daar was toe nie ‘n doodloopstraat vir Petrus nie. Petrus moes sy eie Paaspad loop. Jesus het daarin vir Hom ‘n nuwe lewe aangebied. Paulus is ‘n ander sprekende voorbeeld daarvan.

Die opstanding leer my om te vertrou dat daar altyd ‘n nuwe begin is, nie net na ons dood nie, maar elke dag nou hier. Daar waar dit vir ons voel asof alles donker en leweloos is, is daar die kans vir nuwe lewe.

Die pad loop egter deur ‘n tyd van wag en oorgee in donkerte en onsekerheid, maar op ‘n dag sal daar nuwe lewe kom. Hoe, waar en wanneer sal ons nie vooraf kan weet nie. Nie een van Jesus se dissipels het vooraf geweet wat na sy dood sou gebeur nie. Nie in hul wildste drome nie. So glo ek sal dit vir ons ook wees met elke “dood” wat ons sterf in ons daaglikse lewe.

Here, dankie dat ons mag weet en beleef dat U ‘n oor-en-voor God is en nie ‘n oor-en-verby God nie. Help ons om onsself daagliks oor te gee aan U.

Gaan U voor, ons volg in U spoor. Dis die begeerte van ons hart.

Ons bevind onsself nou aan begin van die belangrikste week in die Christelike kalender: Heilige Week.

Dit is ‘n week met soveel gebeure. Wanneer mens oor die week van Palmsondag tot Opstandingsondag reflekteer, weet mens dat jy nooit in jou eie leeftyd die volle diepte van hierdie gebeure sal kan ontgin nie.

Wat het gemaak dat Jesus voortgegaan het op hierdie skynbaar afdraande pad en nie van plan verander het toe die rampspoedige gebeure die een na die ander op mekaar gevolg het nie?

Inteendeel, Hy het deur alles gehoorsaam gebly aan sy Abba, maak nie saak wat gebeur het nie. Ek glo dit is sy gereelde stil eenkant tye in die teenwoordigheid van sy Vader wat dit moontlik gemaak het. Het daardie tye die onverbreekbare liefdesband, daardie eenheid, tussen hulle bevestig en gevestig? Jesus het ten diepste gewéét dat Hy sy Vader se geliefde is.

Daar in die tuin van Getsemane het Hy ‘n ontsettend felle stryd gestry. Daar was Hy doodsbenoud. Almal het hom verlaat, sy naastes het gaan slaap. Maar weer was daar die onbreekbare band. Sy Vader was daar. ‘n Baie bang, bloedswetende Jesus het nie sy broosheid vir sy Vader weggesteek nie. Oop en eerlik het Hy daaroor gekommunikeer en selfs gevra vir ‘n alternatiewe pad. Maar eindelik, soos ons vandag weet, het Hy hom opnuut oorgegee aan sy Vader se wil.

Is dit nie vandag vir ons ‘n ongelooflike aansporing om nie die spoor byster te raak wanneer ons deur baie moeilike, donker tye in ons lewe gaan nie? En sulke tye kom vir ons almal. Dis deel van die lewe.

Dan wil ek Vrydag net baie stil voor die kruis gaan staan en die gebeure beleef met die bewustheid van hierdie onverbreekbare band ook daar. Toe Jesus se lewe aan ‘n draadjie gehang het en dit vir Hom gevoel asof sy Vader Hom verlaat het (Matt 27:46), was sy Abba daar. Die band was steeds intak, al het dit nie vir Jesus op daardie oomblik so gevoel nie.

Dan volg die Saterdag waar dit weer mag lyk asof daar geen band meer is nie. Jesus is dan dood en begrawe.

Maar Sondag het gebeur. En het Sondag nie gebeur nie?!

Jesus, wat sy Vader totaal vertrou het, is opgewek op ‘n ver-bo-ons-begrip wyse en na ‘n nuwe lewe wat ons nooit hierdie kant van die ewigheid sal kan verstaan nie.

Al wat ek weet is dat ons ook hierdie onverbreekbare liefdesband, hierdie liefdeseenheid, met ons Vader kan hê, net soos Jesus. Dit kan ons met hoop laat leef deur al die tuimeltreindae van ons lewe; ons Here is iewers heen op pad met ons en dit lei altyd na ‘n opstanding, na ‘n groter lewe.

In hierdie week wil ek stilword en deur die baie gebeure iets dieper ervaar van hierdie eenheid wat Jesus met sy Vader ervaar het, ook in my eie lewe.

Mag elkeen van julle ‘n baie geseënde Heilige Week beleef.

My vorige bloginskrywing was op 29 Februarie 2020. Die 40 dae reis het toe ‘n 4 jaar lange reis geword. . .

Die laaste gebed het vir my deur die afgelope vier jaar baie beteken (kyk na die vorige blog).

Hoe sou een van ons ooit op 29 Februarie 2020 kon weet wat vir ons voorlê? Die ondenkbare het ‘n paar weke later begin gebeur met die wêreldwye Covid-pandemie en grendeltyd. Nie een van ons sou op daardie dag kon weet dat ons lewens binnekort so ingrypend sou verander nie. Dit was ‘n skrikkeljaar, dit was ‘n verskriklike jaar.

Dit was haas ondenkbaar dat ons vir ‘n lang tydperk huisgebonde sou wees en alles wat daarmee gepaard gegaan het. Ons wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie. Die pandemie het verwoestend, soos ‘n tsoenami deur die wêreld beweeg en ongekende lyding veroorsaak, fisies, emosioneel, psigies, op soveel vlakke. . . Daar is soveel mense wat gesterf het, wat materiële verlies en meer ervaar het.

Wanneer ek nou terugkyk oor die afgelope vier jaar en hoe my eie lewe verander het, resoneer my hart met dié woorde van Mary Oliver:

The Uses of Sorrow

(In my sleep I dreamed this poem)

Someone I loved once gave me
a box full of darkness.

It took me years to understand
that this, too, was a gift.

Dit het my regtig jare geneem om te verstaan dat hierdie donker tyd wel ook ‘n geskenk was.

Ek wil Mary Oliver se donker boks beskryf as ‘n donker kokon.

Eers later, dalk jare later, wanneer mens op ‘n dag besef dat jy nie meer in die kokon is nie en dat groot transformasies in jou lewe daarbinne plaasgevind het, besef jy dat dit toe ook ‘n geskenk was.

Dis vir ons egter baie moeilik om dit tydens die donker tye te ervaar, eers later besef mens dat daar seën daarin was.

So is dit met elke swaarkry en pyn wat ons tref: daar is altyd ‘n transformasie beskikbaar as ons toelaat dat ons omvorm word in die proses. Ja, dit voel dikwels soos ‘n kruisiging in mens se lewe, maar dit lei altyd na ‘n opstanding, met elke oorgawe.

Wanneer ek terugkyk na wat in my lewe oor die afgelope vier jaar gebeur het, was daar vele geskenke, maar die grootste een daarvan vir my is vryheid, ‘n innerlike vryheid. Dis swaar tye wat mens ten diepste laat besef hoe min ons eintlik weet, hoe nietig en broos ons werklik is. Die vryheid het vir my daarin gekom om te besef hoe min beheer ons regtig het en dat ons uitgenooi word om op ‘n dieper vlak te laat gaan en te vertrou dat ‘n hoër Hand aan die werk is. ‘n Hand wat met die grootste liefde op ‘n misterieuse wyse aan die werk is. Hoe dieper ek dit besef, hoe meer kan ek mý hande se greep laat los en dit is so bevrydend. . .

Kokontye in elkeen van ons se lewens is onafwendbaar. Dit is tye wat mens mag uitroep: My God, my God, waar is U? Het U my verlaat?

Die groot Transformeerder is egter altyd aan die werk en Hy weet waarheen Hy met ons op pad is. Wanneer mens egter later terugkyk, besef jy dat Hy só naby was, al kon ons tóé niks daarvan ervaar nie, al het niks vir ons toe sin gemaak nie, want op ‘n dag:

Hoe verskriklik is U wysheid nie, ons Skeppergod: U wat die beperkende ruimte van ‘n klein kokon gebruik om ons te omvorm om daarna nuut en vry ons vlerke in oneindige ruimtes te gaan sprei. . .

Lydenstyd het die afgelope week aangebreek met Aswoensdag. Elke jaar kry ons opnuut die geleentheid om hierdie 40 dae lange reis te onderneem. Dit kan ‘n diep binnereis word. . .

Lydenstyd is ‘n tyd waarin jy as’t ware jou wurmlewe vierkantig in die oë kyk en iets veel meer as dit begeer. Jy weet net dat jy genoeg van hierdie beperkte lewe gehad het en dat jy smag na ‘n nuwe, groter en vryer lewe.  Ek glo dat dit die Here self is wat hierdie onrus en verlange in ons bring en ons so uitnooi na vernuwing.

Ons word opnuut die geleentheid gebied om ons oor te gee aan God se misterieuse transformasieprosesse.

Ons word uitgenooi om die donkerte van die kokon binne te gaan, ons lewe aan Hom toe te vertrou en te bly wag totdat die nuwe lewe deurbreek.

Dis nie maklik nie, maar dis die enigste pad na die ware lewe!

Jesus is aan die woord:

Matt 16:25 want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

Hierdie kokonne, wat juis nou so volop om ons huis is, bring vir my hoop op hierdie reis. Die skoonheid, die detail en simmetrie van elke kokon laat my ten diepste besef dat U in beheer van die proses is.  Ons kan ons lewens in u ewige Skepperhande toevertrou. . .

Lydenstydgebed

Hier is ek, Here.
Omvorm my, transformeer my
maak my heel en nuut.
Laat nie my wil nie, maar U wil geskied.
Begin oor en voor met my.
Ek smag met my hele hart
na U vernuwingskrag.
Dankie vir U oneindige genade en geduld.
Mag ek bly vertrou dat U liefdeshand op my is
binne én buite hierdie donker kokon.
Help my asseblief om geduldig te bly wag
totdat die reis
op U volmaakte tyd
eindig in ‘n opstandingslewe!
Ek begeer met my totale wese
om as dié mens te leef
wat U my oorspronklik geskep het,
wat U liefdesbeeld reflekteer en U sigbaar maak
in hierdie wêreld
en om met toewyding te leef tot Ú eer alleen.
Help my asseblief om in hierdie Lydenstyd
gereelde stil en eenkant tye by U deur te bring
sodat U my kan herskep.
Laat U liefdegevulde genade my daartoe dring.
Amen

Spreuke 4:23 (DB) Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed.

Die eerste maand van die nuwe jaar lê op sy rug en ons smag dalk alreeds na ‘n stadiger leefpas. . .

Ons het elke nuwe jaar soveel nuwe voornemens, maar ons besigraak laat baie daarvan vinnig kwyn.

Dit tref my die afgelope ruk opnuut hoe ‘n belangrike rol mens se gedagtes speel en hoeveel energie dit kan steel. . . ‘n Mens kan so om en om en om dieselfde ou geykte gedagtes bly dink. Iemand sê dis soos ‘n hond wat sy eie stert bly jaag.

Dit was ook vir my ‘n “eye-opener” om waar te neem hoeveel keer my gedagtes hulle kringetjies al malend en herhalend sluit om gebeure in die verlede en ook in die geantisipeerde toekoms en nie hier in die hede is, wat tog die enigste werklikheid is nie! Verder is my gedagtes wat die hede betref dikwels vol weerstand en nie-aanvaardend teenoor wat nou aan die gebeur is. . . Boonop is daar ook kritiese, veroordelende en vreesgedagtes en nog baie ander waarop ek glad nie trots is nie.

Hierdie bewusbewording word nou elke keer vir my ‘n gulde geleentheid om dit aan die Here oor te gee en te vra om my in my swakke mensheid te help om anders en nuut te dink om dan uit hierdie sinlose kring te kom.

Ek wil nuwe, lewegewende en immergroen gedagtes dink wat alleen Hy kan gee, gedagtes wat op Hom en sy koninkryk gerig is.

Hoe wonderlik anders sal ons wêreld nie wees as elkeen van ons gereelde oomblikke deur die dag stil word en onsself net hierdie een vraag te vra: Waaraan dink ek nou? Mag ons dan ons Here toelaat om ons denke te vernuwe! Hy wil!

Rom 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Deur hierdie daagliks bewuswording en oorgawe sal nuwe, vars gedagtes deur ons kan ontkiem. Mag ons ons binnegrond voorberei daarvoor elke nuwe, liewe dag.

Die nuwe jaar is om die draai en as ons om ons kyk, mag dit lyk asof die wêreld al hoe donkerder raak. . .

Helder oordag het ek met my lens ‘n draai gaan loop en na hierdie waterlelies gaan kyk:

Ek het die wêreld om my opsetlik donkerder gemaak met ‘n kamera-instelling:

En toe nog donkerder:

Die lig wat altyd daar is, het skielik só sigbaar geword!

2020-sig

hoe sou ons anderster kon sien
dat U oral vonkel en flonker
as dit nie was
vir hierdie donker?

Mag ons in 2020 hierdie beeld met ons saamdra. Mag ons op die uitkyk wees vir U lig wat áltyd daar is.

Om so te kan sien, het ons rein harte nodig.

Jesus sê dit vir ons – Matt 5:8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

Dawid, ‘n man na God se hart, vra daarvoor – Psalm 51:12 Skep vir my ‘n rein hart, o God…

Here, dis ook ons hartsgebed.

Daarom kan ons uitsien na hierdie nuwe jaar. Dan kan ons ook leef met die wonderlikste wete dat níks ons ooit kan skei van U liefde en die lig van U teenwoordigheid nie! U is by ons in elke oomblik, maak nie saak hoe donker dit om ons raak nie. . .

U het dit vir ons ook so duidelik bevestig in die laaste woorde van die eerste evangelie – Matt 28:20 En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Job 12:7 “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer…

Ons het ‘n rukkie gelede op twee leeus afgekom:

Sjoe! Vlieë en vlieë en nog vlieë. . . Hulle het nie gevlieg, soos hul naam sê nie – hulle het gesít!

Lyk my al is jy hoe sterk, het jy ook maar jou eie klein irritasies, soms sommer baie van hulle op een slag!

Toe kom daar ‘n lang gaap. . .

‘n Paar vlieë lig. . .

Mag hierdie beeld ons help om ons nie te ontstel oor al die klein dingetjies wat ons rus mag verstoor nie. Netnou-netnou kry hul ‘n ander teiken en vat die pad (of dalk in hierdie geval die lug!), terwyl jy rustig bly. . . 

Lyk my as jy weet wie jy is, kan jy nogal ‘n paar irritasies met grasie hanteer en nie oor elke klein dingetjie opvlieënd en omgeklits raak nie.

By die leeu kan ons inderdaad ‘n groot les leer: jy het altyd ‘n keuse hoe jy reageer!

Hierdie week het die sluimerende beurtkragmonster weer haar aaklige kop opgelig en stuksgewys ons ligte uitgeblus. . .

Ek self wil slange vang wanneer dit gebeur en ek voel glad nie trots daarop om dit te sê nie, maar dis hoe ek voel!

Tog wag daar in hierdie tye ook ongelooflike geskenke vir ons in selfondersoek, insig en perspektief.

Dis so maklik om ‘n vinger te wys na “hulle” wat so korrup is, maar kan ons regtig? Rom 3:10 Die Bybel stel dit baie duidelik: “Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie… Markus 10:18 Jesus sê vir hom: “Waarom sê jy Ek is goed? G’n mens is regtig goed nie. Net God en Hy alleen is goed.

Ons het álmal die stryd tussen lig en donker wat binne ons woed.

Paulus sê in Romeine 7:15 Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.

U soeklig skyn in tye soos hierdie juis helder (selfs pynlik) op ons donker kolle as ons oop is daarvoor.

Vanoggend was ek opnuut so dankbaar toe die son sy oranje kop oor die horison lig! Sê nou maar net U son het nie vanoggend opgekom nie? Dit laat my hierdie beurtkragongerief in ‘n totaal ander lig sien!

En dis nie al nie, die beste lê nog voor: ons, U kinders, weet dat daar ‘n tyd gaan kom wanneer Uself die enigste ligbron gaan wees!

Openbaring 22:4-5 Hulle sal Hom vol in die oë kyk, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. Daar sal ook geen behoefte aan die lig van ’n kandelaar of van die son wees nie omdat die Here God vir hulle lig sal gee, en hulle sal vir altyd as konings regeer.

Paulus se woorde help ons vandag nog  – Fil 2:14-16a Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.

Brilliant people don’t deny the dark; they are the ones who never stop looking for His light in everything. – Ann Voskamp

Wanneer ons stil word en ons oë rig op U, weet ons dat ons sonder U niks goeds kan doen nie. Daarom is dit lewensnoodsaaklik dat ons altyd in verbinding met U moet bly leef, ons kan nie bekostig om ons konneksie met U te verloor nie.

Ons kan dus wanneer beurtkrag ons wêreld se ligte laat afgaan, die tyd gebruik om te ontspan, ons oë van ons skerms af te lig en opnuut op U ewige, onblusbare lig te rig. . .

Joh 10:10b Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.

Van kleins af wil ons weet dat ons groei. Ons wil groter word, meer dinge doen en bereik. Ons wil tog net nie kom by ‘n punt waar ons nie meer groei nie. Daarom probeer ons allerlei dinge om te verseker dat groei plaasvind. Wat ek al meer en meer besef soos ek ouer word, is dat die enigste ware groei dié is wat deur ons gebeur, wanneer ons ruimte skep daarvoor:

Vervulling

Heer, ék wou floreer
dit was my strewe
maar nou die wete –
om bloot rustig en stil
by U te sit
sonder beheer
U alleen te begeer,
en die wonder van wat gebeur:
U nuwe lewe groei en rank
oorvloedig binne my op
. . .

nou leef ek nie meer
maar Ú, my ewige Heer

Hoe wonderlik is U Woord:

Efes 3:19b Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.

Joh 3:30 Hy moet meer word en ek minder.

2 Kor 12:9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Matt 5:3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Ons is swak en hulpeloos, Here. Dankie vir U oneindige genade en geduld met ons op ons lewenspad na volgroeidheid. Help ons om elke dag die ritme en ruimte daarvoor te skep.