My vorige bloginskrywing was op 29 Februarie 2020. Die 40 dae reis het toe ‘n 4 jaar lange reis geword. . .

Die laaste gebed het vir my deur die afgelope vier jaar baie beteken (kyk na die vorige blog).

Hoe sou een van ons ooit op 29 Februarie 2020 kon weet wat vir ons voorlê? Die ondenkbare het ‘n paar weke later begin gebeur met die wêreldwye Covid-pandemie en grendeltyd. Nie een van ons sou op daardie dag kon weet dat ons lewens binnekort so ingrypend sou verander nie. Dit was ‘n skrikkeljaar, dit was ‘n verskriklike jaar.

Dit was haas ondenkbaar dat ons vir ‘n lang tydperk huisgebonde sou wees en alles wat daarmee gepaard gegaan het. Ons wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie. Die pandemie het verwoestend, soos ‘n tsoenami deur die wêreld beweeg en ongekende lyding veroorsaak, fisies, emosioneel, psigies, op soveel vlakke. . . Daar is soveel mense wat gesterf het, wat materiële verlies en meer ervaar het.

Wanneer ek nou terugkyk oor die afgelope vier jaar en hoe my eie lewe verander het, resoneer my hart met dié woorde van Mary Oliver:

The Uses of Sorrow

(In my sleep I dreamed this poem)

Someone I loved once gave me
a box full of darkness.

It took me years to understand
that this, too, was a gift.

Dit het my regtig jare geneem om te verstaan dat hierdie donker tyd wel ook ‘n geskenk was.

Ek wil Mary Oliver se donker boks beskryf as ‘n donker kokon.

Eers later, dalk jare later, wanneer mens op ‘n dag besef dat jy nie meer in die kokon is nie en dat groot transformasies in jou lewe daarbinne plaasgevind het, besef jy dat dit toe ook ‘n geskenk was.

Dis vir ons egter baie moeilik om dit tydens die donker tye te ervaar, eers later besef mens dat daar seën daarin was.

So is dit met elke swaarkry en pyn wat ons tref: daar is altyd ‘n transformasie beskikbaar as ons toelaat dat ons omvorm word in die proses. Ja, dit voel dikwels soos ‘n kruisiging in mens se lewe, maar dit lei altyd na ‘n opstanding, met elke oorgawe.

Wanneer ek terugkyk na wat in my lewe oor die afgelope vier jaar gebeur het, was daar vele geskenke, maar die grootste een daarvan vir my is vryheid, ‘n innerlike vryheid. Dis swaar tye wat mens ten diepste laat besef hoe min ons eintlik weet, hoe nietig en broos ons werklik is. Die vryheid het vir my daarin gekom om te besef hoe min beheer ons regtig het en dat ons uitgenooi word om op ‘n dieper vlak te laat gaan en te vertrou dat ‘n hoër Hand aan die werk is. ‘n Hand wat met die grootste liefde op ‘n misterieuse wyse aan die werk is. Hoe dieper ek dit besef, hoe meer kan ek mý hande se greep laat los en dit is so bevrydend. . .

Kokontye in elkeen van ons se lewens is onafwendbaar. Dit is tye wat mens mag uitroep: My God, my God, waar is U? Het U my verlaat?

Die groot Transformeerder is egter altyd aan die werk en Hy weet waarheen Hy met ons op pad is. Wanneer mens egter later terugkyk, besef jy dat Hy só naby was, al kon ons tóé niks daarvan ervaar nie, al het niks vir ons toe sin gemaak nie, want op ‘n dag:

Hoe verskriklik is U wysheid nie, ons Skeppergod: U wat die beperkende ruimte van ‘n klein kokon gebruik om ons te omvorm om daarna nuut en vry ons vlerke in oneindige ruimtes te gaan sprei. . .