Uit 1 Kor 4: 5 Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring.
Die afgelope week was rommel ‘n tema in my lewe:
‘n Epos waarsku dat my elektroniese posbus meer as 90% vol is en dat sommige boodskappe verwyder moet word om te verhoed dat ek my kwota oorskry…
In alle erns begin ek om baie boodskappe uit te vee, maar dieselfde boodskap kom onveranderlik, stiptelik elke dag terug… Noodgedwonge moes ek nadere ondersoek instel. Nou verklap ek dat my rekenaarvaardighede nie heeltemal op standaard is nie: tot my verbasing kom ek eindelik agter dat die grootste hoeveelheid data byna alles in die “trash”, die rommel-lêer, lê. In my onkunde het ek gedink dat ek alreeds die boodskappe totaal uitgevee het. Daar lê al die boodskappe wat ek gedink het ek lankal van ontslae geraak het, toe in een reuse rommelhoop! Dadelik het ek dit met groot verligting begin uitvee met die bevestiging op die skerm dat dit nou (eers!) permanent verwyder is…
Dit laat my toe wonder hoeveel keer ons dink dat rommel uit ons lewens verwyder is en dan is dit steeds daar, net versteek.
Ai, hoe wonderlik was dit toe nie daarna om soveel spasie te hê nie!
Die ander rommel in my lewe het op ‘n hoop buite gelê: tuinafval en klippe, oop en bloot, tog effens versteek agter die tuinmuur. . .
Dit is gister deur twee baie fluks, vrolike jong manne verwyder. Ek vra hulle name: Noelle en Immanuel: Kersfees en God met ons!
Ja, Here, U is altyd met ons, ook om ons te help om alle rommel en rommelhope in ons lewens raak te sien en daarvan ontslae te raak. Maar daarvoor moet ons U vra.
Later toe hulle weg is, staan ek op die skoon plek waar die rommel was, en sien ek die pragtige skauduweepatrone van die boom op die nou oop grond. . .
Dit laat my opkyk en ek sien die pragtige sagte, groen blare bokant my kop…
Toe weet ek so goed, wanneer U vir ons die rommel uitwys en ons dit met U hulp laat gaan, kom daar spasie in ons lewens, en is daar plek vir nuwe groei om plaas te vind, U groei, U wat alles welig laat groei. . . (Ps 65:11)