Lydenstyd het die afgelope week aangebreek met Aswoensdag. Elke jaar kry ons opnuut die geleentheid om hierdie 40 dae lange reis te onderneem. Dit kan ‘n diep binnereis word. . .

Lydenstyd is ‘n tyd waarin jy as’t ware jou wurmlewe vierkantig in die oë kyk en iets veel meer as dit begeer. Jy weet net dat jy genoeg van hierdie beperkte lewe gehad het en dat jy smag na ‘n nuwe, groter en vryer lewe.  Ek glo dat dit die Here self is wat hierdie onrus en verlange in ons bring en ons so uitnooi na vernuwing.

Ons word opnuut die geleentheid gebied om ons oor te gee aan God se misterieuse transformasieprosesse.

Ons word uitgenooi om die donkerte van die kokon binne te gaan, ons lewe aan Hom toe te vertrou en te bly wag totdat die nuwe lewe deurbreek.

Dis nie maklik nie, maar dis die enigste pad na die ware lewe!

Jesus is aan die woord:

Matt 16:25 want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

Hierdie kokonne, wat juis nou so volop om ons huis is, bring vir my hoop op hierdie reis. Die skoonheid, die detail en simmetrie van elke kokon laat my ten diepste besef dat U in beheer van die proses is.  Ons kan ons lewens in u ewige Skepperhande toevertrou. . .

Lydenstydgebed

Hier is ek, Here.
Omvorm my, transformeer my
maak my heel en nuut.
Laat nie my wil nie, maar U wil geskied.
Begin oor en voor met my.
Ek smag met my hele hart
na U vernuwingskrag.
Dankie vir U oneindige genade en geduld.
Mag ek bly vertrou dat U liefdeshand op my is
binne én buite hierdie donker kokon.
Help my asseblief om geduldig te bly wag
totdat die reis
op U volmaakte tyd
eindig in ‘n opstandingslewe!
Ek begeer met my totale wese
om as dié mens te leef
wat U my oorspronklik geskep het,
wat U liefdesbeeld reflekteer en U sigbaar maak
in hierdie wêreld
en om met toewyding te leef tot Ú eer alleen.
Help my asseblief om in hierdie Lydenstyd
gereelde stil en eenkant tye by U deur te bring
sodat U my kan herskep.
Laat U liefdegevulde genade my daartoe dring.
Amen