Joh 15:9 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.
Ons sit so ‘n rukkie gelede en kyk na ‘n njala wat naby ons kom eet.
My man sê dat dit lyk asof sy soenmerke op haar wang het.
My gedagtes maak draaie. . . ‘n Geliefde kind word gereeld gesoen en soms bly ma of ouma se lipstiffiemerke agter. Ons het altyd in ons gesin gesê: jy word opgesoen!
Ja, Here, so is ons almal U geliefdes. U, wat liefde is, het elkeen van ons met liefde geskep om lief te hê.
1 Joh 4:16b God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
Net daar en dan besluit ek dat ek van nou af elke mens (en dier) wat ek teëkom se “soenmerke” met my geestesoë wil raaksien. Ons kan tog so maklik veroordelend na mekaar kyk, waarom kan ons dan nie eerder op hierdie manier kyk nie? Dis tog die grootste werklikheid omtrent elke mens: die geliefde van God.
1 Joh 4:7 Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God.
Probeer dit bietjie hierdie week. Dit het alreeds so ‘n verskil aan my manier van kyk gemaak!
Ons kan egter eers regtig so bly kyk wanneer ons weet hoe geliefd ons elkeen persoonlik is. Die refrein van Psalm 136 word ‘n werklikheid: Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Geliefdes!
die dag toe ek wéét
ek dra U liefde
op my en in my
én is daarvan omsluit,
is die dag toe my hart
totaal vry en ontsluit
bokspringend lewendig
geraak het. . .
nou laat ek
geen gras meer
onder my voete groei
om my geliefdheid
uit te lééf nie!
Joh 15:11 “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.