Openbaring 21:5 Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

Oral om ons is die tekens van lente sigbaar. Elke dag kom daar nog meer nuwe lewe te voorskyn. Die winter is verby!

Moses Harvey skryf: Die natuur is ‘n boek waarvan God die outeur is.

Martin Luther het gesê: Ons Here het die belofte van die opstanding nie net in boeke geskryf nie, maar in elke blaar van die lente.

U belofte is so oorvloedig geskryf in bladsye en bladsye vars, nuwe, sagte groen skryfpapier!

Dankie Heer, dat ons mag weet dat daar ook ‘n onoorwinlike lente binne elkeen van ons is.

Daarvoor wil ons, met elke lit omhoog, U naam uitjubel en U alleen loof vir hierdie nuwe hoofstuk in ons lewens!

Matt 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

Aan die einde van ‘n harde dag hierdie week het ek gesmag na stilte, eenvoud en na die natuur se helende, verwelkomende teenwoordigheid sommer net hier by ons voorstedelike huis. Ek het stil geword en gekyk en luister.

Dié duifie het rustig in die boom gesit.



Toe ‘n bietjie gedut.

Die kakelaars het gesing of dalk eerder gelag.


Bietjie geëet.

Mekaar se geselskap geniet.

Here, ons het dit so nodig om tot rus te kom. Leer ons om ook soms net ‘n bietjie te sit, te dut, te lag, te eet en mekaar se geselskap te geniet! Dis ware rykdom. Dis ware rus. Dis die beste medisyne vir ‘n harde en te besige lewe.

Dit bring heling en dit bring ons tuis – Joh 15:4 Julle moet in My bly en Ek in julle.


Waar ons onlangs in die warmer bosveld was, was die eerste tekens van die nuwe lente reeds daar!

Na die winterwag verskyn hierdie bloeiselprag:

Helend en strelend is hul op die oog:

Rondom die gesnoeide takke bloei hul in oorvloed. . .

Dankie, opgestane Here, dat U dit ook vir ons elke jaar in die natuur skryf dat daar altyd ‘n nuwe lente-opstanding aanbreek na elke oënskynlike klein en groot winterdood. . .

Hoe wonderlik dat ons mag weet dit is ook vir ons waar!

‘n Laatmiddag se stap in die natuur was letterlik en figuurlik ‘n goue uur. . .

Dis asof die gras bonatuurlik gegloei het, soos ‘n goue vuur.

So mooi is hul in goud getooi!

Die versekering van U sorg is vandag nog daar vir elkeen van ons –

Matt 6:30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

Here, help asseblief ons kleingelowiges om elke dag bewus te wees van die lig van U teenwoordigheid wat oor ons skyn en van U troue sorg in elke oomblik.

Só kan ons in elke uur totaal verlig leef!

Joy is the serious business of heaven.  C. S. Lewis

Bekyk ‘n bietjie hierdie foto van naderby:

 

 

 



Dis asof hierdie by vol blydskap, gefokus en met lewenskrag haar dagtaak verrig. Ek glo dat hierdie by U vereer deur haar by-werk te doen, dít waarvoor U haar geskape het.

Here, help ons asseblief, om dít op aarde te doen waarvoor U elkeen van ons geskape het, sodat ook ons U daardeur sal verheerlik. Ek glo dat ‘n mens sy grootste blydskap só vind.

Dankie dat ons weet dat U ons gewillig en bekwaam maak om U wil uit te voer, en ook vir ons die geesdrif en ywer daarvoor gee.

Dankie vir hierdie wonderlike woorde in Psalm 16:11 U sal my leer om reg te lewe. Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie. U gee altyd vir u kinders die heel beste. Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U.

Dis hierdie blydskap wat ons krag is en wat niemand van ons kan wegneem nie. Dis egte, ware blydskap.

Mag ons blydskap in ons daaglikse leef en werk aansteeklik wees, sodat ‘n stukkie hemel alreeds hier op aarde beleef kan word!

Op die oomblik verhelder die aalwyne ons andersins vaal winter so skouspelagtig met hul vurige kleure!



Wanneer mens lank genoeg naby hulle gaan stilstaan, sien mens die beweging raak: die bye. . .

Met oop oë, hart en ore het ek gewonder wat hierdie by my kan leer?

Die volgende gebed het gevorm:

Here, ek wil ook soos hierdie by wees: om nektar selfs in die koue, vaal en harde wintertye te bly soek en dit wat ek vind, in te drink en ook diep binne my te bêre om dit later gewilliglik saam te gaan poel, alles ter wille van ‘n groter doel. So mag elkeen van ons ons klein deeltjie bydra om in ‘n bitter wêreld soetigheid te help bring; want wie van ons smag tog nie diep binne ons na ‘n land van melk en heuning nie?

Die laaste herfsblare van die boom buite my studeerkamervenster is stadigaan besig om hul greep op die boom te verloor. . .

Dis ‘n seisoen van verlies, een van laat gaan. . .

Maar die lig wat daarop val, getuig van ons Here se teenwoordigheid ook hier. . .

Here, in die lig van u teenwoordigheid is ons áltyd stewig in u ewige greep, maak nie saak waar en waarin ons onsself bevind nie.

Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Johannes 8:12 Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Ons was vir ‘n ruk in die Drakensberge gewees en toe ons aan die einde van ons vakansie in die motor wag dat die veiligheidshek van die oord agter ons toegaan, begroet hierdie toneel ons aan die oorkant van die pad:

Help ons, Here, dat wanneer daar soms deure of hekke agter ons toegaan, ons nie onsself blind daarteen sal staar nie, maar sal bly voortreis om u alomteenwoordige lig op nuwe en verrassende maniere te beleef. . . Maak asseblief ons oë wawyd daarvoor oop.

U kleed wat met lig omhul is, wag ons om elke hoek en draai in en rus sag op ons. . . So maak U ons lewensreis een wat lig en vol lig is.

Lukas 9:23-26 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. “Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?

Die afgelope Woensdag het ons Aswoensdag gevier. Sommige van ons mag dalk ‘n askruis ontvang het.

Die askruis het my ten diepste laat besef dat dit die kruisas is waarom alles draai!

Dis wanneer ons lewens om Hom draai en ons al meer en meer meegee aan sy werking binne ons, dat ons Lydingstydreis nie net swaar is nie, maar ook een van groot vreugde. Wie weet, dalk mag ons nou al Paassondag se vreugdesklokke in die verte hoor lui wat vir ons die moed en hoop sal gee om voort te bly stap op hierdie pad. . .

Verlede week se blog het die werklikheid van pyn in ons lewens aangeraak.

Hier is nog enkele gedagtes daarrondom:

 

 

 

Pynverligting

dis wanneer ek ten diepste weet:
ek hét hierdie pyn
maar ek ís nie hierdie pyn nie. . .
en vreemd genoeg
dan is ek ook nie ‘n pyn
vir dié rondom my. . .
en dalk net juis dán
kan U deur my lewe
iets van U lig laat skyn