Psalm 119:68 U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte.

Dit het so onverwags gebeur: ek is skielik bygedam, op my duim. Ek het my hand na agter uitgesteek omdat ek iets agter my kop gehoor het en daar steek die by my so onverwags, so seer. Iemand help om die angel met ‘n mes uit te skraap. . .

Die raad kom in: smeer koeksoda, tandepasta of heuning aan. Heuning?! Nee dankie, op hierdie stadium wil ek asseblief niks weet van enige by-produk nie!

Aristoteles het gesê: Ons kan nie leer sonder pyn nie.

Met die pynlike rooi swelsel, het ek gaan stilword. Wat wil dié pyn my leer? Toe kom dit: het ons nie maar almal, soos ‘n by, twee ekstreme kante nie? Aan die een kant is ons in staat om soetheid en heilsaamheid te bring en aan die ander kant het ons ‘n giftige angel. . .

by-op-blom

Hoeveel keer bring ek my angelkant na vore, veral met woorde wat seerder as bysteke kan wees en onsigbare pynlike wonde veroorsaak? Dit tref my ook dat hoe selfvernietigend die interaksie vir die by was. . .

by-wat-op-kop-staan

Niemand is goed nie, ons het almal angels. Vreemd genoeg, laat ons angelkante ons besef dat ons sonder die Here niks goeds kan doen nie. Tog aanvaar Hy ons met albei ons kante en het Hy boonop die angel van ons sonde aan sy liggaam aan die kruis gedra.

Dis my begeerte dat hierdie pynlike les sal bly vassteek, dat dit nie by my sal verbygaan nie.

Lyding is ‘n streng onderwyser, maar ‘n uitstekende een, volg die spreekwoord.

Gebed: Here, help my asseblief om ook van my angelkant bewus te wees en eerder egte soetheid, U soetheid, in mense se lewens te bring. Al wat ek moet doen is om digby U te bly vir U werking in my.

Dalk kan ek na ‘n paar dae die woorde van die psalmskrywer beaam in Psalm 119:71 Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

So leer ons wat die hoofsaak en wat bysake is.

img_2081

2 Thoughts on “Dié les het amper by my verbygegaan. . .

  1. Zaai en Jannij on December 2, 2016 at 7:32 am said:

    Dalk is ons ook soos die perdebye, bye gaan dood as hulle gesteek het, terwyl perdebye net aanhou steek. Maar perdebye het min soetigheid in hulle!

    Sal altyd jou gedagtes onthou as ons ‘n by weer sien, en veral as ons aan die verkeerde kant daarvan is.

    Jou gedagte van Christus aan die kruis wat al ons gif moes verdra, is besonders.

  2. baie dankie, waardevolle insogte.

Leave a Reply to Zaai en Jannij Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation