Joh 10:10b Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.

Van kleins af wil ons weet dat ons groei. Ons wil groter word, meer dinge doen en bereik. Ons wil tog net nie kom by ‘n punt waar ons nie meer groei nie. Daarom probeer ons allerlei dinge om te verseker dat groei plaasvind. Wat ek al meer en meer besef soos ek ouer word, is dat die enigste ware groei dié is wat deur ons gebeur, wanneer ons ruimte skep daarvoor:

Vervulling

Heer, ék wou floreer
dit was my strewe
maar nou die wete –
om bloot rustig en stil
by U te sit
sonder beheer
U alleen te begeer,
en die wonder van wat gebeur:
U nuwe lewe groei en rank
oorvloedig binne my op
. . .

nou leef ek nie meer
maar Ú, my ewige Heer

Hoe wonderlik is U Woord:

Efes 3:19b Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.

Joh 3:30 Hy moet meer word en ek minder.

2 Kor 12:9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Matt 5:3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Ons is swak en hulpeloos, Here. Dankie vir U oneindige genade en geduld met ons op ons lewenspad na volgroeidheid. Help ons om elke dag die ritme en ruimte daarvoor te skep.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation