Die laaste herfsblare van die boom buite my studeerkamervenster is stadigaan besig om hul greep op die boom te verloor. . .

Dis ‘n seisoen van verlies, een van laat gaan. . .

Maar die lig wat daarop val, getuig van ons Here se teenwoordigheid ook hier. . .

Here, in die lig van u teenwoordigheid is ons áltyd stewig in u ewige greep, maak nie saak waar en waarin ons onsself bevind nie.

Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Lukas 9:23-26 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. “Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?

Die afgelope Woensdag het ons Aswoensdag gevier. Sommige van ons mag dalk ‘n askruis ontvang het.

Die askruis het my ten diepste laat besef dat dit die kruisas is waarom alles draai!

Dis wanneer ons lewens om Hom draai en ons al meer en meer meegee aan sy werking binne ons, dat ons Lydingstydreis nie net swaar is nie, maar ook een van groot vreugde. Wie weet, dalk mag ons nou al Paassondag se vreugdesklokke in die verte hoor lui wat vir ons die moed en hoop sal gee om voort te bly stap op hierdie pad. . .

Verlede week se blog het die werklikheid van pyn in ons lewens aangeraak.

Hier is nog enkele gedagtes daarrondom:

 

 

 

Pynverligting

dis wanneer ek ten diepste weet:
ek hét hierdie pyn
maar ek ís nie hierdie pyn nie. . .
en vreemd genoeg
dan is ek ook nie ‘n pyn
vir dié rondom my. . .
en dalk net juis dán
kan U deur my lewe
iets van U lig laat skyn

“The reason birds can fly and we can’t is simply because they have perfect faith, for to have faith is to have wings.” JM Barrie

Daar is soveel swaar, seerkry en pyn in hierdie wêreld. Dis deel van die lewe, hoewel ons dit so graag anders sou wou hê, maar dis hoe dit is.

Jesus het dit self ondervind en ons daarvan vertel – Joh 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dis egter wanneer ons met en in ons pyn gaan sit, dat daar ‘n bewuswording kom dat ons nie alleen in ons pyn is nie en dat daar iets soos geloofsvlerke is, wat stadig oopsprei en ons as’t ware opgelig word. . . Ons kan dit nie verklaar nie, dis ‘n diep ervaring anderkant woorde.

Help ons asseblief, Here, sterk ons geloofsvlerke, sodat ons vry en lig kan leef binne U oneindige ruimtes. . .

Kol 1:17 (NLV) Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind.

My man was vir ‘n paar dae in die hospitaal en Sondag kon ek hom huis toe bring. Dis ‘n pragtige, helder dag. Ons kon die son se warm strale op ons opnuut waardeer.

Op pad na ons motor toe, kyk ek af en sien die volgende op die plaveisel van die parkeerterrein:

Toe word ek opnuut so bewus daarvan dat U altyd by ons is en alles bymekaar hou, die ganse heelal en ook die stukke van elkeen van ons se lewens, al voel ons hoe stukkend.

Dié wete het my toe sommer net daar stukke beter laat voel. . . U is altyd in beheer!!

1 Tess 5:16-18 Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Die Vreugde-kers is verlede Sondag met die derde Adventsondag aangesteek.

Eerskomende Sondag is dit die Liefde-kers se beurt.

Terwyl my stiefpa so lank in ICU was, het daar kersversierings op ‘n dag in die voorportaal van die hospitaal hul verskyning gemaak…  JOY, in hoofletters, het ‘n ereplek gekry.

Dit alles terwyl hy stadig besig was om te sterf. . .

Al bloei ons harte, gee die wete dat Hy ons so liefhet, dat sy liefde altyd na ons en deur ons vloei, aan ons ‘n diep, stille, egte en standhoudende vreugde. Hoe dit gebeur weet mens nie, maar die werklikheid daarvan kan ervaar word. . . Niks kan hierdie diep vreugde van ons wegneem nie, omdat die Bron standhoudend en ewig is. Dit hou ons staande te midde van enige iets wat oor ons pad kom. Wanneer ons gereeld stil genoeg voor Hom raak, kom die bewuswording daarvan, bo alle begrip van ons kleine verstand en bietjie verstaan.

Vreugde en liefde is onlosmaaklik verbind.

Johannes 15:9-11 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

My hartewens is dat elkeen van ons hierdie Kersfees hierdie diep vreugde en liefde sal ervaar van Hom wat dit vir ons kom leef het.

Die eerste Adventkers, die hoopkers, is die afgelope Sondag aangesteek.

In die middel van hierdie hoopweek is my stiefpa Willem oorlede.

Dis by iemand se sterfbed waar mens ten diepste bewus word van ons eie sterflikheid, maar ook van ons onsterflikheid.

Dag vir dag oor ‘n maandtydperk in die hospitaal kon ek ervaar hoe sy tentwoning besig was om afgebreek te word.

2 Kor 5:1 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

Sy vleestent het nou hopeloos te klein en beperkend geraak en moes plek maak vir ‘n groter lewe wat besig was om deur te breek. . . Byna soos ‘n metamorfose.

‘n Hemelburger is teruggebring na sy ewige huis toe.

Fil 3:20 Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

Wanneer ‘n mens die stil getuie van hierdie heilige gebeurtenis was, het mens opnuut ‘n nuwe taak; ons moet hoop aangee en nie hoop opgee nie!

1 Petrus 1:3-4 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

1 Kor 15:54-55 En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

Ons gaan jou baie hier mis, Willem, maar hierdie waarhede laat ons met hoop leef en bring die grootste denkbare, of dalk eerder ondenkbare troos, totdat ons jou weer gaan sien in ons ewige woning.

Is die ongemak wat ons soms in ons lewens ervaar nie dalk eerder ‘n uitnodiging nie?

And the day came when the risk to remain tight in a bud was more painful than the risk it took to blossom. Anaïs Nin

Plante het nie ‘n keuse nie, ons het wel. Die proses is pynlik en kos oorgee, ook durf en deurdruk, maar deur ‘n bloeiende plant dop te hou, mag die laaste stukkie waagmoed aan ons gegee word. . .

So is ons dalk toe net genooi om ons beperkende, drukkende ruimtes te verruil vir ‘n nuwe wêreld wat veel groter is as wat ons kon dink of verstaan. . . Amper soos ‘n nuwe geboorte!

Wat ‘n deurbreek, ‘n triomfantelike oopbreek uit die donkerte na die lig is dit nie?!

Al wat U vra is ons ‘ja’, ons bereidwilligheid, dat U nuwe lewe deur ons kan geskied. Hoe dit dan gebeur weet ons nie, maar ons rus in die wete dat U in beheer is. Ons is nederige en oorvloedig dankbare draers daarvan.

Lukas 6:36 Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

‘n Paar jaar gelede het ek verby hierdie boom geloop. Ek wou dit van naderby beskou, want dit was so mooi van ver af.

Toe ek nader gaan, sien ek iets wat my hart diep aanraak. Dis asof die boom se broosheid, gebrokenheid sigbaar word. . .

Hoeveel keer loop ek verby iemand sonder om bewus te wees van hul diep pyn? Dalk wil hul daaroor praat, maar ek is te haastig, te ongeërg, te onbesorg?

Here, in hierdie lewe loop ons almal met wonde en soms het ‘n mens net nodig dat iemand by jou sit in jou pyn. Nie om dit weg te praat, reg te praat of te probeer verklaar nie, maar net om dit raak te sien, raak te hoor. Onverklaarbaar raak ‘n hart dan ligter. . .

Here, help ons om met sagte oë na ons wêreld te kyk, stil te word om diep te luister en U liefde toe te laat om deur ons te vloei. . .

‘n Opstaangebed

Here, vanoggend wil ek
voor ek opstaan
eers gaan lê:
my wil gaan neerlê voor U,
dit afstaan. . .
sodat Ú kan opstaan
in my
en dit Ú voete is
wat hier grond raak. .
sodat Ú deur my leef
in hierdie nuwe dag
help my seblief in elke oomblik
om oop en wakker te leef
om te sien of hierdie willetjie
van my steeds lê
en of hy sowaar al weer opgestaan het!

Matteus 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.