Kol 4 : 6 Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.

By op lavender

 Versoeting

o groot Chemikus
distilleer uit my lewensvog
die soetste nektar
sodat die by my
U daarin proe

 

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

 

 

 

Die afgelope week se geweld en stakings veral by universiteitskampusse het my hard aan die hart geruk, want nou is dit persoonlik: my seun is ‘n eerstejaarstudent… Nou is dit nie meer daar ver nie, nou het dit baie naby gekom.

Tussen al die beeldmateriaal van die geweld, die verskrikking daarvan, sien ek studente van alle rasse wat ‘n sirkel vorm en bid, hard bid. Die lig wat seëvier. Selfs die kleinste vlammetjie gee lig aan ‘n donker vertrek, dit weet ons tog.

Al mag dit oënskynlik lyk asof die duisternis seëvier, weet ons, glo ons dis nie so nie. Dis nie die laaste woord nie, want die Woord het altyd die laaste woord.

Daar aan die kruis, waar dit gelyk het asof alles verby was, was die lig op pad om deur te breek soos nooit tevore  nie. Ons moet net bly hoop, bly vashou vir hoeveel dae Hy wil, Sy lig breek altyd deur.

Kruis

deur die uit-me-kaar-val
kom die inmekaarval …
liederlik word
lieflik

IMG_2017

If you change the way you look at things, the things you look at change – Wayne Dyer

Gebed: Here, wees ons asseblief genadig. Leer ons om ons oë op U gerig te hou, om as U ligdraers en vredemakers te leef.

IMG_1321

 

Psalm 139:14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

 

 

Ek het my vandag aan my duime verwonder. . .  Deur die loop van die dag was ek so bewus daarvan hoe nodig ek hulle het en hoe moeilik ek sonder hulle oor die weg sou kom. Kyk ‘n bietjie vir jouself vandag . . .

Duimgooi

my kopliggie gaan onverwags af
en my hartlampie blits aan . . .
twee duime verskyn skielik
soos twee kordaat soldaatjies
reg hier voor my
velkreukels gevou in glimlaggies
twee halfmane wat nuuskierig
oor naelriemhorisonne loer . . .
só wonderbaarlik ontwerp
vir skarnier en gryp …
geen duim word verder versit
voordat ek dankbaar
hierdie vier litte vier!

Gebed: Dankie vir my duime, o Heer. Vergewe my dat ek so met toe oë kan leef terwyl daar elke dag soveel wondere reg onder my neus is. Maak asseblief my hartsoë oop om U in alles raak te sien, dankbaar te leef, bewus te wees van U oorvloed seën wat U in elke oomblik vir ons gee.

 

Psalm 34:9a Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!

 

 

 

Dis sommer ‘n klein beddinkie veelkleurige blomme op die sypaadjie van ‘n alledaagse stadpad, wat my aandag getrek het.  Ek het die kosmosse daarin raakgesien en besef dat dit nog nie kosmostyd buite in die veld is nie. Dadelik het ek gestop om hulle van nader te bekyk. Hulle was asemrowend mooi en ek kon nie genoeg van hulle skoonheid indrink nie.

My hart het so iets verstaan van Jesus se woorde: “Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie” .

Kosmos 4

Kosmos 3

Wit kosmos 3JPG

IMG_5378

Aanraking

U hand het sagkens
my hartsnare kom streel
en ‘n soet lied
het saggies in my begin speel . . .
my wakker gemaak
om van U bewus te raak

Gebed: Dankie, beminde van my siel, dat U liefde altyd vir ons blom in elke seisoen. Hierdie wete maak my lewe oop om ook te blom . . .

Lukas 10: 33 -34 “Toe het ’n Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg.

 

 

Pelgrims

weens sonde
het ons almal wonde
niemand is ongeskonde
tog raak ons so verbonde

Verbind

Kruise

Gebed: Heer, U versteek dikwels Uself, U waarhede op onverwagse, ongewone plekke en maniere. Pyn en lyding is een van daardie verrassende plekke. Kyk maar net watter die effek die droogte, die lyding wat daarmee saamgaan,  op soveel mense het, hoe het dit die Samaritaan in soveel mense laat opstaan…

Fil 4: 4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Kan ek regtig oor alles bly wees? Op die oog af lyk dit nie so nie. . . Soms kry ek dit maklik reg, veral as iets groots, iets opwindends gebeur.  Maar wat van die ander tussenin tye, waarin die alledaagse sleur, selfs stormtye gebeur?

 

Ek voel dit gaan alles oor waar my blydskap se blyplek is . . .

IMG_7446

IMG_2179

 

Blygeestig

as daar niks meer
van my bly
is ek oor alles bly
maar
ook oor niks bly
want
dan bly ek
waar Hy bly

Gebed: Here, ek bely dat ek so dikwels ‘n blydskap-arm lewe leef. Ek besef dis omdat die bron van my blydskap te vlak lê en gou uitgeput raak. Dis my ekkigheid wat maak dat ek koppig in die pad bly staan, nie in die pad wil val, oorgee,  tot in U altyd-oop liefdesarms nie. Bron van wonderdade, wees my genadig, laat U stroom van blydskap standhoudend in my, deur my en om my vloei, maak my asseblief te alle tye bewus daarvan. Eers dan sal ek altyd ‘n diep, egte, be(rus)tende blydskap beleef.

IMG_2146

 

 

Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.

 

 

Dit tref my weer die afgelope paar dae: wanneer iemand my teenwoordigheid verlaat, verlaat hulle dit nie onveranderd nie. Hulle voel óf beter óf slegter as voor die ontmoeting. Dis vir my belangrik om aan die einde van ‘n dag myself af te vra hoe my wiskunde van die dag gelyk het. Ek som dit so op:

Wiskunde

wat se wiskunde het ek vandag gedoen?
het ek opgetel, bygevoeg, geplus in ander se lewens?
of het ek weggeneem, afgetrek, geminus?
minusbewerkings moet mos net in my eie lewe gedoen word
minder, minus van myself
trek myself af
sodat Hy meer kan word,
geplus, vermenigvuldig word
dan deel Hy sy vreugde, vrede, alles met my!
so word ek dan sy koninkryk deelagtig
nou weet ek: so word alle
euwels, flaters uitgewis
en nou is ek regtig wis-kundig!

Gebed: O groot Leermeester, ek wil graag by U leer. Leer my asseblief om U soort wiskunde elke dag te doen.

IMG_1990

 

 

“Life is beautiful” sê sommige. “Life is a struggle” sê ander.
Die lewe leer ons egter só:

Life is a Beautiful struggle

IMG_6071

Die rose hierbo is vir my ‘n simbool daarvan: die geel, die son, en die rooi van die bloed, die stryd, albei is teenwoordig in die een blom.

Hoe leef ons hiermee saam? Ek glo die antwoord is in Ps 131 te vind:

Ek het rus gevind
1‘n Pelgrimslied. Van Dawid.
 
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
2Ek het rus en kalmte gevind.
Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.

 

Ek ervaar dit so:

abba en baba
nie ‘n abrakadabra
maar vas, veilig, kalm

Babavoet

So wil ek die pad loop, dis die regte posisie om in te leef!

 

 

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

 

 

Die afgelope ruk loop ek, leef ek soveel mense raak wat weet van donker klaskamers. Die lig in hul oë vertel ‘n storie . . .

Soek-lig

in donker nag van pyn
waar eieroem, eiewaan
eiewysheid kwyn
as alle skyn verdwyn
skyn Sy lig die helderste
soos dit nooit
in sonskyn skyn

IMG_3466

Gebed: Here, U weet dit is so menslik om net in die pyn, teen die donker vas te kyk, maar U laat lewe voortspruit uit enige donkerte. Help ons om U lig te sien, sodat ons kan sien wat U wil hê ons moet sien.

Truly, it is in darkness that one finds the light, so when we are in sorrow, then this light is nearest of all to us. – Meister Eckhart

 

Handelinge 17:27b,28  Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’

 

 

2016 lê pasgebore, blinknuut reg hier voor ons. My wens vir almal is dat ons elke dag, elke oomblik van hierdie nuwe jaar bewus sal wees van die Here se teenwoordigheid.

In Lukas 5 word dit beskryf hoe Jesus sy eerste dissipels geroep het. Ek het dit so verwoord:

Visvangs

my net wil skeur
my boot wil sink . . .
gaan asseblief weg
alles om my, in my stink

nee, simon, vir jóú wil Ek kry
sommer net hier naby My

Gebed: My hart wil skeur. U is soveel liewer vir ons as wat ons dink, of eerder, soveel liewer vir ons as wat ons kan dink. U die almagtige, onveranderlike, misterieuse, ewige lig-God sien al my sonde, my swakheid raak, maar steeds wil U my baie naby U hê. Hoe kan ek ooit met krom woorde genoeg daarvoor dankie sê? Ek kan dit tog gaan lééf, want ek hoor mos U hartklop . . .

IMG_1971

IMG_2160