Joh 1:9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 

Dis twee baie ou Kerskaartjies, beide afdrukke van oorspronklike mondgeverfde skilderye, wat vir my die blye, wyer boodskap van daardie heilige nag kom uitbeeld het.

Die staltoneel en die vorm van die sterre in drie tonele het veral my oog gevang.

Die refleksie kom: ons Redder het met sy brose liggaam in ‘n houtkrip gelê en ‘n paar dekades later het sy brose liggaam weer teen hout gelê, hierdie keer vasgespyker teen ‘n kruis.

Die kruisster wat bokant die krip hang is vir my ‘n heenwysing na die kruis waaraan die Kripkind eendag sou hang. Wat ‘n liefde! Hy wat self God is, het broos en swak geword ter wille van hierdie liefde. 1 Joh 3:16a Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Dit laat my in blye aanbidding buig. . .

Hy nooi ons elke dag om Hom te volg. Dit behels dat ons, net soos Hy, sal opgroei en sterk word.  Luk 2:40 Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Daarvoor moet ons elke dag gevoed word sodat ons uit ons krippe kan klim.  Hy, die Brood van engele, wil ons voed met die beste koring en heuning uit die rots. Ons kan ook vashou aan die wete dat God se genade op ons sal wees, want so bly sy lig steeds tot vandag toe sigbaar.

Die krip en die kruis, dis die twee K’s van Kersfees. Dis die volle verhaal van Kersfees. Dis ons Here se wil dat dit ook ons verhaal sal wees. Die tweede gedeelte van 1 Joh 3:16: Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

Hy wil hê dat ons ons kruis sal opneem en Hom sal volg, vanaf die Betlehemster tot by die helder Môrester wat tot hier binne ons kom leef . . .

Ek lees die vanne van dié twee mondkunstenaars, lettergreep per lettergreep: die eerste een is Verster en die een hierbo is Lamphier. Immanuel, God, is hier, Hy is nie ver.

One Thought on “Kersfees het twee K’s . . .

  1. Lindy Jordaan on January 23, 2017 at 11:28 am said:

    Wil graag die twee K’s onthou! Kan nie die skilders se name glo nie!!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation