2 Kor 4:18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

‘n Paar dae gelede loop ek weer die keëls raak. Die bruin met groen omsoom, val so sag op die oog.

Toe sien ek dit: bo die oopgebreekte keël val die lig val in ‘n kroon, ‘n ligkroon!

U, die lig, het van u hemelkroon afstand gedoen en hier op aarde dit verwissel met ‘n doringkroon. . .

U dra u kruis en hierdie kroon van dorings vanuit u oneindige, oorvloedige hart vol liefde vir verlorenes.

U het daardeur dit vir ons moontlik kom maak het om vir ewig saam met U te lewe, ‘n kroon by U te ontvang!

Paulus skryf in 2 Tim 4:6-8 Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

Here, dit gee ons soveel moed om voort te gaan op ons pelgrimspad. Al val en faal ons so dikwels op hierdie pad van selfopoffering en al voel dit vir ons so dikwels swaar en steil, weet ons hoe dit eindig! Ons is so diep afhanklik van U in elke oomblik.

Wees ons genadig, sodat ons ons oë op U gefokus sal hou, daar waar U op u hoë hemeltroon sit, maar ook hier binne ons waar U besig is om ons elke dag al meer en meer te transformeer na u beeld en ons so gereed te maak vir hierdie oorwinnaarskroon.

So, al mag dit soms vir ons voel asof ons net ‘n doringkroon dra, het ons die ongelooflike hoop en vooruitsig van ‘n hemelse verwisseling. Dankie vir soveel tye vol genade wat U ons iets daarvan alreeds hier laat ervaar. . .

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation