Fil 3:20a Maar ons is burgers van die hemel. . .

Sedert die laaste bloginskrywing was daar ‘n groot verlies in ons lewens: my skoonma is verlede Vrydag oorlede. Dis asof verlede week se inskrywing profeties was en ek kon opnuut troos vind in die woorde, die gedig. Ons het ook soveel troos ondervind in die woorde, die omgee en liefde van mense om ons.

ma-susan-9-nov-16

Daar is niks soos die donkerte van dood om ‘n mens te laat besef hoe verganklik, hoe tydelik ons lewens hier is nie. Dit is juis in hierdie oomblikke wat ons intens soek na lig, na iets meer, iets groters. Dit laat ons besef dat ons eintlik deel is van ‘n ander wêreld. . .

img_0339

Die verlies is swaar, maar ons troos lê daarin dat sy nou haar permanente intrek geneem het: haar aardse tentwoning is afgebreek en sy leef nou in haar vaste hemelwoning.

Stof tot dankbaarheid

Met Ma Susan, 1929-2016, se gedenkdiens

vier syfers, ‘n strepie, vier syfers
‘n geboorte, ‘n lewe, ‘n sterwe
lewe het uit-gesyfer . . .
stof wat teruggekeer het na stof,
die woestynwind waai
en ‘n plek is vir altyd leeg

twee datums, ‘n begin, ‘n einde
aan mekaar verbind
die berusting: alle tye rus in sy hand,
die altyd oop, uitgestrekte Hand . . .
wanneer ons hand daarin kom rus
sal dit nooit uit geruk word nie
nie tot in alle ewigheid nie . . .

vier syfers, ‘n stofstrepie, vier syfers
nie ‘n einde
maar ‘n begin . . .
‘n terugkeer van ‘n onsterflike siel
na die onsterflike Stofmaker

Ons sal Ma mis, maar dit troos om te weet waar Ma is. . .

Johannes 14:6a Jesus het vir hom gesê: ”Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

Alles is nogal deurmekaar op die oomblik in ons land. Dit voel asof alles val en wat nog nie geval het nie, is op pad om te val. . .

val

Maar wat daarvan as ons heeltemal anders daarna kyk? Ons as Christene het ‘n ander uitkyk op die lewe, want ons kan opkyk na Lewe.

img_6207

Die diep wete dat God altyd aan die werk is en dikwels op baie vreemde maniere, behoort ons as Christene gemoedsrus te gee te midde van enige onrus, enige val . . . In sy arms hoor ons sy sagte fluisterstem.

Troosfluisteringe

alles is reg
Ek is nie weg
Ek is die weg

Wil Hy dalk juis hê ons moet in hierdie tyd val: in sy arms in? So word die val-pad, die af-pad dan ‘n op-pad, op pad saam met Hom.

Kom ons val elke dag in die pad, op hierdie pad!

Joh 1:5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

‘n Krisis verander ons lewens ingrypend. Die een oomblik voel alles nog reg en die volgende oomblik is daar ‘n groot verlies. . . Dis asof daar ‘n donker gordyn om mens toevou,  die donkerte jou omsluit . . .

As Christene word ons nie gevrywaar van krisisse nie, maar ons weet dat Hy altyd by ons is, dat Hy ons nooit alleen laat nie. Hyself het deur soveel donkerte gegaan. Die voorhangsel het geskeur en daar het vir ons lig, toegang tot Hom gekom.

Met die kranslegging voorverlede Sondag loop ek stadig en ek sien dat een van die slagoffers se dogter voor my loop. Sy is in swart aangetrek en dis baie duidelik dat sy in skok is, dat haar hart gebreek is… Ek sien dat daar ‘n arm sag om haar gevou word. . .

Toe ek later die foto op my rekenaar aflaai, sien ek die ligstraal:

20161016_120209_hdr_resized

Toe herinner Hy my: nuwe lewe kom altyd uit die donkerste plekke…

IMG_2017

Markus 16:6 “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.

Toe onthou ek die woorde uit die liedboek: Lei U ons lig, deur hierdie duisternis. Here Jesus, U weet hoe, want U ken die pad uit die duisternis. Op U volmaakte tyd sal die lig deurbreek, terwyl ons aan die wete vashou dat U ewige arms altyd sag om ons gevou is.

Joh 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Ons ervaar steeds die rimpeleffek van wat verlede Woensdag in ons kompleks afgespeel het. . . Dit het ‘n invloed op soveel mense se lewens.

Die afgelope Sondag was daar ‘n diens en kranslegging by ons klubhuis. Die mense, oor alle grense heen, het in groot getalle opgedaag, soveel so dat daar nie genoeg sitplek was nie. Soveel bosse blomme is gebring. Die tragiese gebeure het mense nader aan mekaar gebring. Pyn is ‘n universele taal.

blomme-2

Ek hoor en sien hoe mense met mekaar praat, mekaar ondersteun.  Bure ontmoet mekaar vir die eerste keer. . . Mense, medepelgrims,  sien mekaar regtig raak.

Pelgrims

weens sonde
het ons almal wonde
niemand is ongeskonde
tog raak ons so verbonde

Pyn en lyding maak ons opnuut bewus van ons gebrokenheid en ons gebroke wêreld. Dit skud ons tot in die oomblik in, ons volle aandag is skielik hier. Ons broosheid en breekbaarheid maak ons bewus daarvan dat ons heling nodig het, dat ons nie sonder ‘n Verlosser kan leef nie.

Here Jesus, U het U daartoe verbind om ons wonde te verbind en ons daardeur aan U verbind. So verbind U ons ook aan mekaar deur ons wonde.

Die volgende woorde is vir my nou baie kosbaar: Hosea 2:18-19 Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.

Ek kyk af en net hier op die harde pad, reg onder my voete, sien ek sy trou raak:

img_0018

Gister, na ‘n heerlike reënbui deur die nag, sien ek in hierdie poeletjie sy hart van liefde wat oorloop vir ons. . .waterhart

Ja, Here, tekens van U troue liefde is oral sigbaar, dikwels op plekke waar ons dit die minste verwag. . .

Psalm 23:2 He lets me rest in green meadows; he leads me beside peaceful streams.

Die geweld was hierdie week nie net ver nie, maar was baie naby, tot in ons kompleks, The Meadows.

Woensdag was ‘n dag van verskrikking wat geëindig het in 4 mense wat hier binne dood is. Ek en my man was buite die kompleks. Ons seun was by die huis, juis vanweë die geweld op die Universiteitskampus… Ons kon nie inkom by ons huis nie en ons seun moes binne die huis bly.

Laatnag kon ons eers terugkeer huis toe.

Die gebeure was oral in die nuus. As jy dit misgeloop het, lees meer by http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/pta-gyselaarsdrama-so-ontvou-gebeure/

My hart is stukkend. Wat maak dat een mens so iets geweldadigs aan ‘n ander doen? Wat gaan binne ‘n hart, ‘n lewe, aan om medemense net bloot só dood te skiet?

Ek loop gisteroggend met my kamera en vra dat Hy vir my sy hart wys.

Die huis is reg hier voor my: dit herinner aan ‘n fort. Daar is ‘n dik, hoë muur in aanbou. Drie lere lyk vreemd geplaas . . . Ek ervaar die pyn van dit wat hier gebeur het. Op die teer buite lê rooi grond op die plek waar een van die slagoffers gelê het, ‘n stille bewys van die tragedie wat homself hier afgespeel het… ‘n Pa, ‘n eggenoot, ‘n seun, koelbloedig doodgeskiet…  ‘n Lewe vernietig.

img_0002

Here, U wil vir ons rus bied in groen weivelde, terwyl daar soveel haat, vrees, onrus en geweld om ons en in ons is.

Mag ons harte groen weivelde vir mekaar wees waarin dié wat lewensmoeg en vol pyn is, rus kan vind en so ook die Herder daar ontmoet.

Ek loop stadig , baie hartseer weg en ek weet die pyn wat ek voel is syne… Hy, die Vredevors, wil hê ons moet in vrede leef. Ps 133:1 kom by my op – Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!

Met die terugstap sien ek aan die kaktusplant, met sy skerp punte, ‘n veertjie hang. Toe verstaan ek: selfs in al die seer, bly U daar, is U altyd met ons.

img_9983

‘n Entjie verder weg lê sy monogram reg hier voor my –

Ichtus: Jesus Christus, Seun van God, Verlosser.

img_0022

Dankie Heer dat U altyd by ons is, in elke oomblik. Dankie dat U ons gedurig daaraan herinner selfs in ons seerste seer, want U het ons in gedagte gehad in U seerste seer.

Exodus 3:4a (MSG) God saw that he had stopped to look. God called to him from out of the bush.

Waar ons so ‘n rukkie gelede in ‘n nabygeleë wildtuin was, was dit hartverskeurend om te sien hoe droog dit is. Die damme het só min water in.  Op die oog af lyk alles so hard, so lelik, so ongenaakbaar . . .

Dis egter lente en hier en daar is daar bome met die mooiste bloeisels. Ek het al nader gegaan en hoe nader ek gegaan het, hoe groter het die skoonheid geword. . .

Ek deel dit graag met julle:

boom

img_8974

img_8958

img_8945

img_8948

“Holiness comes wrapped in the ordinary. There are burning bushes all around you. Every tree is full of angels. Hidden beauty is waiting in every crumb.” ― Macrina Wiederkehr

Dit is waar, daar is oral braambosse, selfs daar waar ons dit nie verwag nie. Om ‘n braambos te kan herken, moet ons egter stop om te kyk, hulle word nie sommer net in die verbyloop of -hardloop raakgesien nie.

Ek wil nie graag later moet sê: “Die Here is op hierdie plek en ek het dit nie besef nie”.

Gebed: Here, help my om asseblief U teenwoordigheid in elke elkedagse braambos raak te sien in elke mens, elke dier, in alles, want U is in alles.

img_8932

 

Fil 1:9 Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,

‘n Ruk gelede het ek hierdie boom raakgesien. Van ver af het hy so mooi vertoon.

img_0413

Maar toe ek nader kom en by hom stil word, sien ek op sy stam ‘n hart.  Dit het my hart aangeraak . . .

img_0814

Dis asof hierdie boom sy seer hart vir my wys. Die lied van R.E.M. Everybody hurts kom by my op. Nie almal loop met hulle harte op hul moue nie, maar as ons stadiger leef, bietjie R.E.M., stil sit by iemand, regtig omgee, sal hulle hul hart stadig vir jou oopmaak, wys. Dit alles vra egter tyd, liefde en geduld. Dit is oneindig kosbaar wanneer dit gebeur. Klipharde klipharte word dan vleessag . . .

img_0418

Gebed: Here, ons woon in ‘n stukkende wêreld waar almal wonde dra. Help ons asseblief daarom om sag te wees met mekaar, sag te kyk na mekaar, laat ons mekaar daaraan herinner dat U genesende lig altyd daar is en altyd genesing wil bring, U wat altyd sag na ons kyk . . .

Joh 16:33 In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

‘n Jong student sterf onverwags, ‘n middeljarige vrou sterf skielik, ‘n jong Ma en haar ongebore baba sterf,  ‘n middeljarige man kry beroerte en sterf  ‘n paar dae later . . . Soveel mense word tot stilstand geruk deur dood, siekte, beproewing, trauma.

 

Ons voel soms so teen die aarde, stukkend, flenters, vol gate. . .

IMG_2406

Maar: Man van lyding wat pyn geken het, U lewe hier op aarde was ook vol gate. Maar U het net uitgehou, aangehou, met volle vertroue in die Vader, selfs al was U self ook later vol gate. . .

IMG_0823

Paulus skryf in 2 Kor 4:17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

IMG_3047

 ‘n Heerlikheid, ‘n Heer-ligheid wag! Immanuel-God, wys asseblief vir ons U vensters, al is ons flenters, vol gate . . . Ek glo dat Paulus ook deur hierdie venster gekyk het toe hy die Here hoor sê het:  “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12: 9)

Skoenlapper

 

Luk 7:35 Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Soms voel die lewe vir ons so onverstaanbaar, so asof daar net te veel donker, verlies en seerkry is, so asof ons bloei . . .

Deur na hierdie amandelbloeisels te kyk, het ek iets groters beleef. . .

In die donker het hierdie nuwe lewe stil en stadig begin ontvou en het later tot bloeisels deurgebreek. Word ons dalk uitgenooi om kinderlik en blindelings te bly glo dat Hy besig is met ons en dat ons sy prosesse en sy tyd moet vertrou? Moet ons bloot net in die onsekerheid van die donker geduldig bly wag vir die nuwe lewe wat stadig besig om te ontvou? In Jes 30:15 lees ons: Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.  Sjoe, dit kan so moeilik wees. Dis so maklik om te kla en in selfbejammering en hooploosheid te verval.

Ons sou dit so graag anders wou hê, maar op hierdie aarde word ons nie gevrywaar van pyn en seerkry nie. Jesus het egter vir ons so duidelik kom wys hoe nuwe lewe uit die donkerste plekke verrys.

IMG_7541

Amandelbloeisels 3

Here, help ons asseblief om vas te hou aan die wete dat U alles in U hand hou, dat U in beheer is van elke seisoen in ons lewe én saam met ons daardeur gaan. Mag ons gedurig aan U beloftes herinner word: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Hebr 13:5, Deut 31:6, Jos 1:5) en Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer 29:11) 

Dan sal ons bloeiseisoene uit ‘n ander perspektief beleef.

Bloeiseisoen

bloei blomme
bloei, bloei
voor bloei, bloei
voor groei, bloei

Kolossense 3:2 Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.

Die tema van verlede week se inskrywing was oor vure, min wetende dat nog ‘n vuur die volgende bloginskrywing sou vul. . .

Sondagoggend het die S.O.S per epos gekom:

(Plastic View is die plakkerskamp langs Moreletapark gemeente se kerkterrein.)

Die fisiese, verwoestende vuur het uitgewoed, maar dit het ‘n nuwe vuur tot gevolg gehad. . . Brandende harte het voete in beweging gebring en hande laat oopgaan, soveel so dat daar so vroeg as Dinsdag al ‘n epos gekom het met die titel:

Plastic View: Dankie! Ons voorraad is vol!

Dit het my laat dink aan die gedig van Teresa van Avila:

Christ Has No Body

Christ has no body but yours,
No hands, no feet on earth but yours,
Yours are the eyes with which he looks
Compassion on this world,
Yours are the feet with which he walks to do good,
Yours are the hands, with which he blesses all the world.
Yours are the hands, yours are the feet,
Yours are the eyes, you are his body.
Christ has no body now but yours,
No hands, no feet on earth but yours,
Yours are the eyes with which he looks
compassion on this world.
Christ has no body now on earth but yours.

Ek het gaan stil word by die kruise op die kerkterrein.

Net ‘n entjie onderkant die kruise, sien ek toe die volgende stelle veertjies. Hulle lê twee-twee styf bymekaar in die gras:

Later loop ek na die hek by Plastic View. Daar hang ‘n brandreuk in die lug. Daar is groot bedrywigheid en ek sien en hoor hoe daar gekap en gewerskaf word aan nuwe huisvesting.

Toe hoor ek dit bo al die ander klanke: ‘n vrou wat diep, gelukkig uit haar maag lag. . . Ek luister in verwondering daarna. Hoe kan ‘n mens alles verloor en twee dae later só lag?

Dit word toe vir my kristalhelder: ék het ‘n “plastic view” wat maak dat ek perspektief verloor en vaskyk teen aardse, brandbare besittings en soveel keer vreugde misloop, miskyk.

Toe sien ek dié drie raak. Dis die eerste keer dat ek hierdie voëls met hul wit en swart sien. Hulle is eers op die grond en al drie later in die lug.

Later kry ek bevestiging dat dit skoorsteenveërs of heilige ibisse (van die Engels: sacred ibis) is. Toe verstaan ek die heilige boodskappe van die drie voëls en die veerpare: ons het U, Drie-enige God, so nodig om die skoorsteen van ons lewens skoon te hou, al die vuil en verstoppings weg te neem, sodat ons skoon en brandend sal bly, warmte sal gee waar ons ook al kom. U wys vir ons dat ons mekaar nodig het om uit te styg bo die plastiek van ons lewens. . . S.O.S Here, wees ons asseblief genadig.